Opinion

Ek het nie ‘n vurk vir my spaghetti nie!

Die redakteur skryf:

Die lewe is deesdae so gejaag dat mens maklik dinge vergeet.

Met Covid-19 in die omtrek moet mens as ekstra voorsorgmaatreël jy jou eie eetgerei werk toe bring en gebruik.

Ek het een oggend verlede week soos altyd opgestaan, gestort, tande geborsel, my werktas en kamera gereed gekry, my pille gedrink en middagete gepak. Ek was seker ek het alles … twee vrugte, ‘n Bovril-broodjie, ‘n Fizzer, ‘n pakkie Skittles en ‘n pakkie tjips, joghurt, ‘n eetlepel en teelepel, ‘n papbord en dan laevetmelk vir my Rice Krispies. Maar wag, toe onthou ek … Daar is nog van die vorige aand se spaghetti in die yskas. Hoekom dit ook nie inpak nie?

Ek groet toe my vrou en seuntjie, en ek is daar uit.

Ons garagedeur werk ook nie te lekker nie en ek mors daar weer tyd deur te staan en wag.

Met alles in die kar is ek daar weg en luister op pad na ‘n lekker nommer, Thunderstruck deur AC/DC, net om seker te maak ek is wakker.

Teen dié tyd is ek al ‘n paar minute laat en jaag so teen 57km/h op Ontdekkers. By die verkeerslig naby Luipaardsvlei wou ek vinnig regs draai maar ek moes wag, en lank ook want dis mos ‘n naweekrobot.By ons kantoorgebou kry ek ‘n gaatjie om te parkeer. Ek sit my masker op, haal al die goed uit die kar en vlieg by die hoofdeur in … ek is hier! Eers word my koors gemeet en moes ek soos al die ander dae eers vrae beantwoord oor moontlike siektesimptome. Dan is dit op met die trappe teen ‘n helse spoed en ‘n kollega hier en daar groet. In die proses val ek amper met al my bagasie.

Uiteindelik is ek in my kantoor. Sjoe! Ek maak gou ‘n koppie lekker koffie, eet my joghurt, ‘n druif of twee en my Rice Krispies. Ek lees my eposse, maak ‘n telefoonoproep of twee en tik ‘n storie of vier.

Teen middagete was ek behoorlik honger. Ek sit gou daardie heerlike spaghetti in die mikrogolf op hoog en wag vir die tieng-geluid! Ek lek my lippe af toe ek met die heerlike Italiaanse dis na my lessenaar toe stap. Ek gaan sit en maak my oë toe om dankie te sê vir wat nou hier gaan gebeur … wat toe nie gebeur het nie want ek het my vurk vergeet!

Dankie Covid-19, want omdat ek nie ander eetgerei mag gebruik nie, kon ek nie my spaghetti geniet nie. Ek sal volgende week maar weer probeer.

Related Articles

Back to top button