Opinion

Dankie vir die nievrot aartappels

Tog gee ek toe dat die algemene atmosfeer in Randgate rustig was, meer soos in Shangri-La bedoel.

Kersfees kan deur die gewone persoon in Randgate op heelwat maniere toegelig word, sonder om te veralgemeen, tog met die volle toegewing dat daar maar in elke sak aartappels ‘n paar vrottes is.

Sommige senior burgers sal dalk die klassieke fliek The Legend of Shangri-La onthou wat gehandel het oor ’n fiktiewe, misterieuse en harmoniese vallei of dorp iewers. Dit was ’n pragtige plek om in te wees, sonder die gewone aardse Sturm und Drang, geweld, misdaad ensovoorts. Daar is wonderlike natuur, baie blomme, liefde en dierbare mense.

Daar word hier en daar na Randgate se mense as die ‘Gaters’ verwys. Baie van hulle was op hulle stukke oor die Kerstyd. Vetgedrinkte, raserige klompies is opgemerk. Duidelik het sekeres dwelms gebruik. Die populêre een nou in omloop is glo mahoppie volgens die jongklomp. (Spelling volgens uitspraak van ’n informant of twee.) Tik en andere word glo ook nog gebruik.

Daar is opvallend min klappers afgeskiet oor Kersfees en Nuwejaar. Dankie tog!

Dit is net hier en daar gedoen deur ’n paar moedswillige jafels. Dit was lekker om te sien hoe hulle verwilder word deur woedende troeteldiereienaars. Gelukkig het die hoogs irriterende sweepklappery selfs deur jong knapies opgehou.

Daar was diefstal, soos van ’n 40m-tuinslang en ’n minibraai skaars vyf meter vanaf die slaapkamer. ’n Paraffienstofie, sonkragliggies, selfone ensovoorts het voete gekry. Dit is eenvoudig krimineel.

Rommelhope, gemorskospakkies, leë drankbottels en andere was vrylik te sien. Mense drop, soos die Bleekbene sê, eenvoudig die goed oral, net waar hulle wil.

Tog gee ek toe dat die algemene atmosfeer in Randgate rustig was, meer soos in Shangri-La bedoel. Mens kon kerk toe gaan, na rustige klassieke musiek tuis luister en in die ware besef van Kersfees en Nuwejaar jou tyd tuis ombring. Dankie vir die nievrot aartappels.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button