Die wonde is van vêr sigbaar

Die gemeenskappe, verskillende munisipaliteite en provinsies bloei soos die sweep van korrupsie deur hulle vlees skeur.

Verstaan ons mooi, 1994 was ek en ‘n groot gedeelte van my landgenote nie vir die regerende party nie. Inteendeel, ons was vir verandering. Die geloof en begeerte vir ‘n beter lewe vir almal het kortlik daartoe gelei dat ons die kruisie vir verandering sonder huiwer getrek het om vry te kan wees, gelyk en saam ‘n beter Suid-Afrika te bou, om saam te werk en sodoende tesame die rykdom van ons land gelykop te deel en te geniet.

Dit alles het ons blind van patriotisme gemaak. Die kruisie moes getrek word, die stemlokaal binnegegaan word en seker gemaak word verandering kom. Sonder twyfel met die geloof dat die volgende generasie vir seker ‘n beter lewe sou hê, tot ons verbasing.

Kyk waar staan ons nou, met pen in hand en die res met die rykdom in sak. Rykdom oneerlik versamel en nou ons land in pyn laat lê. Die gemeenskappe, verskillende munisipaliteite en provinsies bloei soos die sweep van korrupsie deur hulle vlees skeur. Die wonde is van vêr sigbaar.

Almal ly daaronder, is dit dan so moeilik om te verstaan?

Die land het die inkomste nodig om aan die lewe te bly. My Suid-Afrika word gedreineer en ek en myne kom die ergste daarvan af, net soos jy en joune.

Besef die kwaaddoeners dan nie? Die inhaligheid verpletter en vernietig ons selfbeeld, trots en geloof in ‘n beter lewe. Ons lewe nou soos mense met geen uitkyk. Die beter toekoms wat ons verwag het, is net ‘n droom. Van ons het al begin vrede maak met die situasie. Daar is nie meer werk vir ons mense nie, geen dienslewering aanvaar ons ook nou maar, rassisme, onenigheid en afgunstigheid is ook ons daaglikse brood. Gelykheid is nou net ‘n droom.

Die beloftes wat daar gemaak is, was te aantreklik en die omstandighede waarin ons onsself as ‘n land bevind het, het dit maklik gemaak om ons te oortuig.

Hier sit ons nou …

Exit mobile version