Opinion

Wie is die karwagte se ‘baas’?

Ek vra rond en dit klink asof dit maar net ‘n informele besigheid is en iemand in die straat die ‘baas’ is.

Ek vind geen fout met karwagte in die algemeen nie en het rêrig niks teen hulle nie.

In die veranderende wêreld verrig dié mense tog ‘n noodsaaklike diens en meeste kom ordentlik voor en tree gaaf, vriendelik en behulpsaam op teenoor kliënte, ook hier in Randgate.

Terloops, is daar nie ‘n beter naam as ‘karwagte’ nie? Die naam klink effe platvloers.

Ons aanvaar dat die ouens dié soort werk moet doen om aan die lewe te bly en brood op die tafel te plaas. Met dié dat jy ook meer en meer ridders van die wapad oftewel bedelaars teëkom, kom die besef dat ons mense sukkel, dat die ekonomie aan flarde is en werkloosheid aan die orde van die dag is.

Dit gebeur gereeld dat ek parkeer en daar geen karwag in sig is nie. Wie kyk nou na jou voertuig? Tog, as jy klaar is en weer inklim verskyn daar ‘n mensie vinnig, vanuit nêrens met vraende hand en gesig … Eish.

Soms moet jy tot driekeer per dag na dieselfde winkel toe gaan. Dieselfde wag tree jou dan aan en verwag weereens ‘n fooi. Is dit reg?

Normaalweg is die klompie darem netjies geklee en dra neontipe-bostukke. Maar sjoe, daar is ook erg verslonsde, verwese, ongeskikte en drankdeurtrekte siele. Ek het al gesien hoe daar na motoriste wat wegtrek geskop word en hulle vloekwoorde onder die rok toegesnou word! Vraag is, by wie en waar kla jy? Ek vra rond en dit klink asof dit maar net ‘n informele besigheid is en iemand in die straat die ‘baas’ is.

In Uniestraat, Randgate lyk dit met tye asof elke liewe winkel sy eie karwag het. Wat gebeur as jy van een winkel na die ander moet swerf vir inkopies? Terloops, ek verneem dat die neonbostukke teen R30 by ‘n sekere winkel aangekoop word.

Die ander een vertel dat sy al vroegoggend R90 in die sak het. Ek begin wonder …

Related Articles

Back to top button