Opinion

Wie se probleem is dit?

Dit is hier in ons midde, reg rondom ons in Randgate. Waar is die dienste waarvoor ons betaal?

Ek het in ‘n onlangse uitgawe van die Herald kopskuddend die agbare burgermeester se verskonings aan Jan Publiek en beloftes van beter diens gelees.

Dit was na aanleiding van Eskom se skielike onbeplande beurtkrag, wat terloops geskied het sonder vooraf waarskuwing.

En wrintiewaar, net ‘n dag of wat daarna gaan die krag weer af in Randgate en elders! Dié keer was dit glo nie Eskom se skuld nie, dit was wel te wyte aan die een of ander [probleem] in die kragnetwerk. Deurentyd hoor en sien mens op die nuus, radio en TV ‘n groteske eierdans van Eskom en sy amptenary oor waarom daar kragonderbrekings was.

Dan het ‘n vervoerband gebreek, dan was dit ‘n stokou opwekkingseenheid wat die gees gegee het. Voorts word reusagtige bedrae genoem wat stadsrade aan Eskom skuld.

Ek dink ons almal weet van wanbetalings, onwettige aansluitings ensovoorts. Die vraag is: wie se probleem is dit?

Ek het ook lesers se onlangse tirades oor die swak diens van die Randfontein-munisipaliteit gelees. Daar is onbedekte versoeke en dreigemente van allerhande aksies teen die munisipaliteit. Gewone betalers is vies!

Ek het gaan rondstap en kyk. Daar is ‘n stroom water wat afloop in Tadhopestraat, Randgate; foto’s is beskikbaar.’n Dik pyp lek iewers.

Dan kom mens af op twee grusame tonele, sommer hier naby jou. Die eerste stel foto’s wys tonele by ‘n sogenaamde huis in Vandeventerstraat. Daar is onder andere ‘n verstopte of lekkende drein wat al maande lank in ‘n hoop vullis vloei. Dit is vir seker ‘n gesondheidsprobleem. [Bure] vertel dat die eienaars nêrens te vinde is nie, dat daar al petisies opgestel is en skrywes gerig is, en dat ‘n politieke party niks uitrig nie. Lede van die rooiparty het glo op ‘n kol die plek bewoon en beheer.

Ek dons toe net om die hoek na die plek in Henningstraat wat nou die dag amper afgebrand het. Die huis was [voor die brand] ‘n skuiling vir, om dit sagkens te stel, haweloses. Nou lees jy ook in die Herald oor die huis. Soos ek dit verstaan, reg of verkeerd, is hier ‘n gesystap à la Cheslin Kolbe oor wie nou eintlik verantwoordelik is vir die plek. Die tweede stel foto’s gemerk ‘Henningstraat’ wys wat aangaan.

Dit is hier in ons midde, reg rondom ons in Randgate. Waar is die dienste waarvoor ons betaal?

Die lekkende drein in die erf in Van Deventerstraat. Foto ingestuur.
Die huis in Henningstraat wat deur ‘n brand beskadig is. Foto ingestuur.
Die erf in Van Deventerstraat wat soos ‘n rommelhoop lyk. Foto ingestuur.
Die huis in Henningstraat wat deur ‘n brand beskadig is. Foto ingestuur.
Die huis in Henningstraat wat deur ‘n brand beskadig is. Foto ingestuur.
Die huis in Henningstraat wat deur ‘n brand beskadig is. Foto ingestuur.
Die huis in Henningstraat wat deur ‘n brand beskadig is. Foto ingestuur.

Related Articles

Back to top button