Wat help demokrasie dan …?

Mens wens dat die besluitnemers hul besluite deeglik sal hersien voor die groenlig gegee word.

Johannesburg brand, so ook Pretoria, Kaapstad en ander klein dorpies in Suid-Afrika. ‘n Gesig wat my as Suid-Afrikaner beskaamd laat staan.

So vêr gekom, om hier te eindig.

Wat help demokrasie dan as dit nie ordentlik toegepas word nie?

Wat help dit dan om jou kruisie op stemdag te maak? Dit met die hoop en vertroue dat daar na jou belange omgesien sal word, en die hoop dat jou griewe die nodige aandag sal geniet. Dat diens aan jou gelewer sal word, is ‘n droom van so baie Suid-Afrikaners. Ek vra weer, wat help demokrasie dan …?

Dit het die norm geword om uit te gaan en verwoesting te saai, in plaas daarvan om ‘n oplossing te probeer kry vir mense se griewe en bekommernisse. Daardie skool, kliniek of staatsgebou wat afgebrand word, is iets wat die brandstigters ook nog gaan nodig kry.

Daardie geboue moet herbou word. Eiendom moet vervang word met geld wat gewoonlik uit die sak van die belastingbetaler kom.

Gewone mense wat hard werk en ‘n goeie lewe vir hulself en hul naasbestaandes wil bou, moet opdok. Daardie geld kon vir iets anders gebruik word. ‘n Stryd wat die storie van ons lewens geword het. Mens wens dat die besluitnemers hul besluite deeglik sal hersien voor die groenlig gegee word. Terwyl hulle so baklei oor mag, kry die burgers swaar.

Jy vrees nie net vir jou eie lewe nie, maar vir almal om jou. Ons landsgrense bestaan nie meer nie. Dis oop vir al die soorte.

Jy weet nooit wanneer die petrolbomme, klippe en al die soorte wapens hulle verskyning sal maak en jou lewe bedreig sal word nie.

Is daar nie ‘n greintjie trots oor in die burgers van SA nie? Beteken patriotisme dan niks – liefde vir jou land en die vlag?

Daar is so lank baklei om die land op die regte pad te kry. Om dit nou in die verkeerde rigting in te stuur is malligheid.

Exit mobile version