Daar’s ‘n gevaarliker pad as die R28

Ek bid vir al die mense wat daardie pad vroegoggend en namiddag moet ry.

‘n Paar weke terug het ek iets geskryf oor die onvoorspelbare en gevaarlike R28-hoofpad wat deur Randfontein loop – die wrede pad wat geen genade toon nie.

Daar is ‘n ander pad wat twee keer so gevaarlik is …

Ek wil ook net sê dat geen straat of pad gevaarlik is nie, net die motoriste en voetgangers wat onverskillig is. Dit gee die paaie ‘n slegte naam.

Ek het onlangs vroegoggend met die ou Randfontein-pad (R559 Mainweg) gery, die een wat verby Cooke 1-myn loop.

Ek’s bietjie meer as 25 jaar wettig op die pad en het lanklaas so iets ondervind. Jy moet senuwees van staal hê om daardie pad aan te durf. Vroegoggend is dit hel. Manne ry soos hulle wil, onwettige U-draaie, skielik stilhou, aansluit by verkeer wanneer daar aankomende voertuie is; heel stadig ry wanneer daar voet in die hoek gesit moet word, spoed aandraai wanneer daar stadig gery moet word.

Ek bid vir al die mense wat daardie pad vroegoggend en namiddag moet ry – diegene wat saamry werk toe en terug, skoolkinders wat moet sit en self rem trap soos hulle aan die kant van die pad afvlieg, dié wat moet eenkant toe skuif sodat die taxi’s en die jong laaities met die harde musiek kan verbygaan, heel op die geel lyn. Geen sorg in die wêreld nie.

Daar’s ‘n nuwe vulstasie gebou langs dié pad en daar gaan verkeersligte net by die vulstasie geïnstalleer word.

Kan mense daardie kruising nie solank as ‘n vierrigtingstop hanteer nie? Dit sal dinge soveel makliker maak.

Die gereg kan net soveel doen; dit hang van elke motoris af om te doen wat van hom of haar verwag word.

Randfonteiners wat elke dag die pad gebruik, wees versigtig asseblief.

Exit mobile version