Daar kan nie elke dag gehamer word op die verlede nie

Ons het regtig nie altyd tyd vir die politieke gemors nie. Ons wil net die plek skoon hê.

Daar was ‘n tyd toe die Randfontein-prentjie perfek was.

Vra maar rond. Ek weet daar sal diegene wees wat sê, “Nou gaan jy te vêr”. Dis my opinie. Jy het onkruid hier en daar gekry, vanselfsprekend want waar daar pragtige plantegroei is, moet daar sekerlik ‘n paar onkruide wees. Nie soos vandag waar die lang gras, vullis en onkruid meer as die plantegroei is nie. As daar ooit plantegroei is om van te kan praat …

Strate was ordentlik en in stand gehou. Padtekens en aanwysings is aangebring waar nodig. Ek onthou hoe alles wat aan die stadsraad behoort het die letters “RM” opgehad het. Geen skrootwerfeienaar het hierdie gemerkte yster of staal aanvaar nie, het liewer die polisie gebel.

Verkeersligte was in werking. Geboue, praat hier van besighede en winkels, was in puik kondisie en in stand gehou. Waar daar gevind is dat winkeleienaars of gewone inwoners in die woonbuurte nie omgee nie of ‘n houding het teenoor die omgewing en omliggende gebiede, is hulle beboet. Goed ook, en hulle moes dit sonder teëpraat betaal. Was nie onregverdig nie, net dissipline en order is gehandhaaf.

Sondae was geëer as ‘n Sabbatdag – ‘n dag wanneer almal moes rus. Geen besighede het handel gedryf nie. Bottelstore was gesluit.

Ek onthou hoe mense kon foto’s neem in die dorp .Hulle kon dit doen want daar was altyd ‘n pragtige agtergrond om mee te werk.

Kyk, apartheid was verkeerd en my gebede is om nooit weer deur so iets te gaan nie. Ek weet baie sal argumenteer en sê dat ons nou ‘n ander soort apartheid ondervind van die ander kant af. Mag so wees, maar hoekom dan die dorpie daaronder laat ly? Geniet jou vryheid in ‘n skoon, veilige plekkie, waar jou kinders vrylik kan rondbeweeg sonder vrees dat iets sleg met hulle kan gebeur.

Net soos ‘n man se huis, werf en motorvoertuig sy trots is en dit ‘n refleksie van sy eie netheid is, net so is die beeld van sy dorp en woonbuurt ook. Of sal ek sê dit moet ook so wees.

Daar kan nie aldag gehamer word op die verlede en in dieselfde asem die land laat agteruit gaan nie. Daar moet begin word om saam te werk aan die probleem. Randfontein moet by die huis begin, sodoende kan ons verder vorder. Iewers moet iemand begin sodat die res die voorbeeld kan volg. Hoekom nie hier nie?

Die buitelanders is nou hier; daar kan seker niks aan die saak gedoen word nie. Die ding wat my ontstel is dat dit lyk asof hulle nie veel omgee oor hoe hulle winkels lyk nie – ek praat hier van die plek skoon hou, en meer ventilasie en beligting aanbring in hulle winkels. Net ‘n voorstel.

Wanneer ‘n man kos verkoop, moet daar sekere reëls gevolg word. Hulle moet gesertifiseerd wees, dan nie? Kan ons ook nie meer inspekteurs inroep om na die uitleg van die besighede te kyk nie om te verseker dat wat daar vir die publiek verkoop word, goed is vir menslike verbruik en eetbaar is? Hulle moet seker maak dat die sypaadjies skoon en veilig is om te kan loop. Daar is plekke in Randfontein waar jy loop en bid dat die dakke voor sekere winkels moet hou tot jy verby is.

Of het ons hulle gewys hoe lewe ons, en nou gaan hulle maar net aan?

Die munisipaliteit sal moet skrik, al is dit net wakker. Die vullis raak al hoe meer, en dreineerpype en watervoorsiening is in gedrang. Soos die inwoners moet daar plek gemaak word vir alles. Jaar na jaar vermeerder die getal inwoners in Randfontein wat baie druk op alles plaas. Daarna moet gekyk word. Help nie om elke tweede week vir ‘n uitgesoekte paar mense huise te bou, geboue links en regs te bou en te vergeet van infrastruktuur, riool, elektrisiteitstoevoer, vullisverwydering, meer skole, goeie en betroubare polisiëring, en gesondheidsdienste wat almal gelyk moet behandel nie.

Ons het regtig nie altyd tyd vir die politieke gemors nie. Ons wil net die plek skoon hê.

Ons moet begin skoon lewe. Ons nageslag maak op ons staat om die regte dinge te doen. Daar’s nie ‘n beter tyd as nou om die verskil te maak nie. Elkeen moet in sy eie woonbuurt begin. ‘n Sekonde na hy/ sy dit in sy/ haar huis reggekry het, moet dit verder gevat word. Dan sal die dorpie lekker regkom, want niemand sal papiere en al die ander gemors net rondgooi nie. Wanneer jy self skoonmaak en skoon hou, sal jy nie toelaat dat dit so lyk nie.

Randfontein sal weer ‘n plekkie word waar mens kan gaan sit en ietsie eet, ‘n foto met geliefdes kan neem en herinneringe bou.

Exit mobile version