Baie druk op vandag se jongmense

Alles mag by die huis begin, maar 'n sekonde nadat die kind uit die huis is, is dit ander grootmense se plig om te help bou aan 'n beter toekoms vir al die jongmense.

Met druk van alle kante af is dit nie speletjies om vandag ‘n jongmens te wees nie – van hul ouerhuis tot in die straat, na die skool en dan hul verantwoordelikhede in hul onderskeie gemeenskappe en kerke.

Daar moet altyd ‘n balans gehandhaaf word tussen huislewe en al die ander omgewings waarin die jongspan hulself daagliks bevind.

Daar waar alles begin, die huis, is ‘n plek waar almal glo die dissipline moet begin… dit is so. ‘n Plek waar die wortels van ‘n goeie, eerbare en suksesvolle lewe vorentoe begin vir enige kind. Dit is ‘n plek waar daar van ‘n kind verwag word om altyd gehoorsaam, eerlik, hardwerkend en hulle deel te doen om hulle familie te laat floreer. So baie druk is op die mensies want terwyl hulle altyd al die opdragte moet uitvoer sonder teëpraat is daar die verantwoordelikheid op hulle skouers om hulle familie se naam altyd hoog te hou, waar hulle ook al gaan.

Dan is daar skool …

Om weereens jou alles gee, hard te werk, betyds te wees, huiswerk te doen en betyds in te dien en altyd te onthou dat persoonlike higiëne van kardinale belang is. Die veranderinge in hulle liggame is oorweldigend en verwarrend. Al die kinders het nie die vrymoedigheid om dit met enigiemand te bespreek nie, wat daartoe kan lei dat hulle ‘n houding ontwikkel wat nie altyd gepas is vir hul onderwysers, ouers, bure en selfs ampte in die kerk nie.

Straatlewe in enige lokasie is altyd ‘n uitdaging vir ‘n kind of tiener.

Hulle moet ten alle tye hulle man of vrou kan staan en seker maak om nooit vasgevang te word in die greep van alkohol of dwelmmisbruik nie. Tienerswangerskap, bende-aktiwiteite en alle vorm van mishandeling is ‘n werklikheid en kan oor hul pad kom. Sonder leiding is hulle kwesbaar en kan hulle enige tyd die verkeerde pad kies. Slegte invloed van verkeerde vriende is so gevaarlik. Die straat kan hulle maak of breek.

Lewe in vandag se kerke het sy eie uitdaging.

Sondagskool en jeugaktiwiteite is een in dieselfde. Dit vat baie konsentrasie en tyd. Wie wil nou geken word as die een wat nie sy Bybelvers kan onthou nie of altyd verkeerd sing. Daar word verwag dat jongmense altyd ordentlik en opreg moet optree, eerlik en met respek hul take moet uitvoer.

Die sosiale media is genadeloos…

Behalwe die kuberboelies is daar al die pornografiese prentjies en videos wat die rondte doen. Die verskillende soorte musiek, die geweld op die groot skerm en TV dra ook by tot die kind se agteruitgang. Daar mag beperkings wees op alles maar die jonges gee nie veel om of het nie altyd ‘n ander keuse nie. Hulle kry te maklik toegang tot al hierdie dinge. Dit verander hulle hele houding teenoor die lewe. Selfrespek is by die deur uit. Skelm maniere word ontwikkel want sodra hulle moet wegsteek, steek hulle ook al die ander verkeerde dinge weg. ‘n Skelm steel en moet later doodmaak om te kan steel … feit! Dit moet ten alle koste verhoed word.

Dis ook waar dat sekere wetstoepassers nie altyd doen wat van hulle verwag word nie. Sommige mense is net daar vir die salarisse en voordele wat die werk bied, min wetend dat hulle ‘n baie belangrike rol speel in ‘n dorpie wat geteister word deur bendes, besmet is met dwelms en alkoholmisbruik.

Wet en orde is hulle verantwoordelikheid, dan nie? Die jonges moet die gevangenis vrees, maar dis nie in vandag se lewe so nie. Dit het ‘n plek geword waarheen mannetjies wil gaan om straatkrediet te kry. Hulle wil ‘n naam in die straat bou in plaas van op skool om ‘n goeie lewe te bou vir hulle en hulle mense.

Toe ons grootgeword het, was daar een van twee opsies, reg of weg. Vandag het die kinders die reg en wette aan hul kant wat dit moeilik maak om hulle te beheer. Daarom is dit belangrik vir almal om saam te werk. Kom ons wees eerlik, WAWA kan net soveel doen. ‘n Sekonde na hulle wegstap, gaan dinge maar net weer aan. ‘n Kollektiewe poging moet aangewend word, glo my.

Hoe help ‘n mens nou die jonges want kyk, dit is nie net die ouers se verantwoordelikheid nie. Dis waar hulle die fondasie moes gelê het, van kleins af. Doen ons wat ons moet doen, gee ons genoeg leiding of behandel ons slegs die simptome en wys vinger agterna?

Dis maklik vir onderwysers om ouers te blameer, ouers die polisie… en so kan die lys vir dae aangaan. Feit bly staan, dis almal se verantwoordelikheid om die kinders op die regte pad te hou.

Alles mag by die huis begin, maar ‘n sekonde nadat die kind uit die huis is, is dit ander grootmense se plig om te help bou aan ‘n beter toekoms vir al die jongmense.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version