Opinion

Bekommerd oor dissipline by skole

Daar is geen dissipline van enige aard nie.

Na aanleiding van ‘n brief wat in ‘n dagblad verskyn het oor dissipline by skole rig ek die volgende skrywe aan u.

My dogter is ‘n leerder by ‘n hoërskool in die dorp. Dit gaan nog erger by haar skool as by die een in Vanderbijlpark. Daar is geen dissipline van enige aard nie.

‘n Paar onderwyseresse probeer maar is ook al moedeloos. Van hulle storm uit die klas uit en party het al selfs in hulle motors geklim en weggery. Die res van die leerders word dan onderrig ontneem.

As gevolg hiervan is baie onderwysers siek want hulle kan nie meer nie. Dit het gebeur dat klasse weke op toesig moet gaan want daar is nie plaasvervangers nie. Die hoof en adjunkhoofde is ook nie sigbaar om dissipline te handhaaf nie.

‘n Hoof kan nie goeie dissipline handhaaf indien hy/ sy nie uit die kantoor gaan en die onderwysers bystaan nie. Die manspersoneel help ook nie indien daar ‘n geveg uitbreek nie. Moet die vroue dit hanteer?

Die beheerliggaam van die skool is ook nie betrokke nie. Hulle staan die onderwysers glad nie by nie. Ek dink die meeste onderwysers weet nie eers wie op die beheerliggaam dien nie. Hulle is deur die ouers verkies.

Ek as ouer is baie bekommerd oor die skool en my kind se veiligheid. Die hoof sal moet optree want soos die spreekwoord sê: spyt kom te laat.

Goeie onderwysers word nie vervang nie. Al hoe meer kinders verlaat die dorp want ‘n skool se reputasie loop hom vooruit.

Ons plaas hierdie brief omdat mense ingevolge die Perskode die reg het om hul mening te lug, veral as dit in die openbare belang is. Skole is welkom om hierop te reageer — Red.

Related Articles

Back to top button