Munisipaliteite vou onder regering

Die Wes-Randse munisipaliteite in Gauteng is vir 'n geruime tyd finansieel kniediep in die moeilikheid en daar is jare reeds heelwat rooi ligte wat flikker.

Die onlangse gyselaarsdrama in die kantore van die Wes-Rand Distriksmunisipaliteit (WRDM) is ‘n klinkklare bewys dat die ANC-regering onder druk swig.

Ongelukkige munisipale werkers het na maande steeds nie salarisse ontvang nie en hulle mediesefonds- en pensioenbydraes is nie deur WRDM oorbetaal nie.

Jaco Mulder, VF Plus Gauteng-leier en Philip van Staden, Lid van die Provinsiale Wetgewer moes onlangs ingryp om die situasie in Johannesburg gedurende ‘n betoging deur die ongelukkige werknemers te help ontlont. Amptenare het in noodvoertuie na die kantoor van David Makhura, die Gautengse Premier, in Johannesburg gery in ‘n poging om hom te dwing om hulle te woord te staan.

Volgens die VF Plus is die regering bereid om weer eens die SAA (Suid-Afrikaanse Lugdiens) uit hul finansiële verknorsing te red, maar doen niks om plaaslike munisipaliteite te red nie. Daar is ook geen gevolge vir politici en amptenare wat verantwoordelik is vir die finansiële ramp wat munisipaliteite tans beleef nie, desondanks Nasionale Tesourie se consequence management- veldtog.

Ek benadruk die feit dat raadslede regsaanspreeklik gehou kan word vir besluite wat negatiewe finansiële implikasies vir die munisipaliteit en inwoners tot gevolg het. Veral finansiële portefeuljes en oorsigkomitees soos OMRK’s (openbare munisipale rekeningkomitees) wat nie in die beste belang van die munisipaliteit en inwoners van die dorp optree nie, kan regsaanspreeklik gehou word.

Die ANC fokus op die belange van die ANC, eerder as op die belange van alle inwoners van die dorp. Die Wes-Randse munisipaliteite in Gauteng is vir ‘n geruime tyd finansieel kniediep in die moeilikheid en daar is jare reeds heelwat rooi ligte wat flikker.

Behalwe vir Rand West en Merafong City het die WRDM onder leiding van die burgemeester, Boisi Maneli ook dié week amptelik tot ‘n val gekom toe hy deur die Gauteng Provinsie onder administrasie geplaas is. Na bewering is die hoof finansiële beampte deur sekuriteit uit die Wes-Randse distrikskantore begelei as gevolg van beweerde finansiële wanbesteding.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat wanbesteding op so ‘n skaal nie net deur ‘n enkele persoon uitgevoer word nie. Die munisipale bestuurder, burgemeester en sy burgemeesterskomitee sowel as finansiële komitees is almal deel van besluite wat geneem en uitgevoer word.

Die VF Plus in Mogale City sal onverskrokke veg teen wanbesteding en so sorg vir beter dienslewering. Inwoners word aangemoedig om die Vryheidsfront Plus te steun met hul ‘Red Mogale’-projek om te voorkom dat Mogale City dieselfde pad as die ander Wes-Randse munisipaliteite volg. Dit is nou of nooit.

Exit mobile version