Bekker Manne-aand iets spesiaal!

Van krokodilvleis, 'n heerlike lambspotjie, peri-peri hoender, tuisgebakte brood en konfyt, 'n biertent met musiek tot 'n veiling van talle sportmemorabilia en weggepryse. Nou wat wil nagenoeg 600 mans meer hê?

Ek het onlangs die voorreg gehad om saam met familie en vriende ‘n klompie legendes in eie reg te ontmoet en saam met hulle te kuier.

Behalwe dat dit my eerste keer by so ‘n geleentheid was, was dit ook die eerste keer dat ek krokodilvleis geëet het. Daar was ook ander smullekker geregte, ‘n biertent met musiek, ‘n veiling van talle sportmemorabilia en weggeepryse. Nou wat wil nagenoeg 600 mans meer hê?

Tydens dié Bekker Manne-aand in Magaliesburg het die gaste Marco van Staden, Frik du Preez, Daryll Cullinan, Wessel Oosthuizen, Bakkies Botha en Andries Vermeulen ingesluit.

Marco is ‘n Bekker-oudleerder. Hy is nou ‘n Blou Bul-speler en het in Augustus vanjaar as reserwe sy buiging vir die Springbok-rugbyspan teen Argentinië gemaak.

Oom Frik het geen bekendstelling nodig nie. Hy is aangewys as die Springbok-rugbyspeler van die 20e eeu, en is ‘n rasegte voormalige Blou Bul-speler wat saam met ander grotes soos Gareth Edwards, Colin Meads, Hugo Porta, JPR Williams, Mike Gibson and Willie John McBride deur Wêreldrugby se Hall of Fame erken is. Oom Frik het sy Springbok-buiging in 1961 teen Engeland gemaak en 10 jaar later sy stewels opgehang. Dr Danie Craven het hom as een van Suid-Afrika se beste spelers beskou. Gelukkig kon ek ‘n kiekie saam met hom neem en sy handtekening kry.

Daryll is ‘n gewilde en voormalige Protea-speler wat sy land in al die vorme van krieket verteenwoordig het. Hy was veral op toetsvlak ‘n boffin met die kolf en spog met ‘n lopiegemiddeld van 44,21 asook (20 vyftigtalle en 14 honderdtalle). Daryll het dié aand ‘n paaltjie wat aan hom toegeken is toe die Proteas die Wes-Indiese Eilande in hul eie agterplaas geklop het, opgeveil.

Oom Wessel is ‘n fotograaf van formaat. Noem net ‘n sportgeleentheid hy was daar. Hy was oral in die wêreld met sy kamera – van ‘n Olimpiese Spele en Jeugkampioenskappe tot Rugby Wêreldbekertoernooie. Hy het vir my een van sy memoirs gegee asook ‘n kopie van sy Portrait of Rugby – ‘n boek wat van sy allerbeste sportfoto’s bevat. Ek salueer oom, en baie dankie!

Bakkies, die ysterslot van oor die twee meter en 120kg het by talle van sy opponente vrees ingeboesem. Hy word beskou as een van die beste voorspelers wat ons land opgelewer het. Hy het vir my sy handtekening op ‘n sportfoto in Oom Wessel se boek gemaak.

Andries, een van die aanbieders op kykNET se OppieStoep-geselsprogram, was die seremonie’monster’ wat die manne laat lê het van die lag. Hy het later sy ernstige kant getoon deur die aand af te sluit met ‘n hartroerende boodskap oor pa- en manwees.

Exit mobile version