Na 30 jaar geniet ek dit steeds

As ek terugdink kan ek net vir God bedank vir Sy groot genade en beskerming deur al die jare.

Dis met groot opgewondenheid dat ek hierdie brief skryf. Ek is vanjaar reeds 30 jaar betrokke by die organisering van die Randfontein Skou en geniet dit steeds. Ek werk ook met ‘n gedugte span mense wat my ondersteun en hulle kant bring.

Ek het wonderlike lag- en huilherinneringe. Baie van my drome het waar geword. Ek het wonderlike mense ontmoet en moes ander ook met hartseer groet. As ek terugdink kan ek net vir God bedank vir Sy groot genade en beskerming deur al die jare.

Die 2018 Randfontein Skou het weer ‘n propvol program en een van my gunsteling funksies is die Vrouebiddag. Ek nooi graag dames uit na die Wêreldbiddag vir Vroue-funksie op Vrydagoggend, 2 Maart van 8vm tot 10vm in die Skoumarkiestent. Wanda Bam is die spreker. Toegang vir dames is gratis tot 8vm en ons vra dat elke vrou ‘n nuwe of amper nuwe bra saambring vir ons ZABRA-liefdadigheidsprojek.

Ons dorp het lanklaas ‘n byeenkoms gehou waar ons saam kan hande vat, sing en bid vir ‘n hoopvolle toekoms. Op Sondag, 4 Maart vanaf 8.30vm bied ons so ‘n byeenkoms by die Skou op die krieketveld aan. Ek nooi almal hartlik uit om na Angus Buchan se boodskap van hoop te kom luister.

Die Skoubedrywighede gaan voort na 11vm en daar is baie om na uit te sien, onder andere Juanita du Plessis en haar kinders op die hoofverhoog om 11.15vm. Ondersteun ook ons talle kosstalletjies wat deur kerke, skole en diensorganisasies bedryf word. Die hondevertonings, kinderpark en Kuierskuurverhoog bied ook vele vermaak vir besoekers aan.

Die Skoutema is ‘Brille’, so kom kyk deur ‘n nuwe bril na die Skou wat by die Greenhills Stadion van 1 tot 4 Maart aangebied word.

Dankie aan al ons borge, uitstallers, kunstenaars, besoekers, die Munisipaliteit, plaaslike besighede en ‘n hardwerkende Skoukomitee wat ek glo die 2018 Randfontein Skou een gaan maak om te onthou. Vir enige navrae kontak die Skoukantoor by 011 412 2878/ 1562 of besoek www.randfonteinshow.co.za.

Sien julle by die Skou!

 

Exit mobile version