Opinion

Broer op ‘sterfbed’ – Ons voel die gemeenskap se besorgheid en liefde

Ondertussen sit, bid en wag ons in afwagting gespanne vir 'n aankondiging vanaf die medici by die hospitaal.

Die sosiale mens, James ‘Jigis’ Dickson, my laaste oorlewende broertjie en allemansvriend, is tans gekoppel aan ‘n asemhalingsapparaat in die Helen Joseph Hospitaal na sy diagnose met chroniese brein- en longkanker.

Neuroloë het hom breindood verklaar, wat my uiteindelik as wees en enkeling sal nalaat.

Jigis was jare lank werksaam by die Baragwanath-tak van SA Brouery en ander distilleerders (as tekenskrywer). Hy’t weliswaar vele teenslae in sy lewe ondervind – sy twee tragiese mislukte huwelike, die dood van ons ouers, vyf broers en twee susters en helaas, sy onvoorsiene siekte-aanval waarvan die oorsprong onbekend is.

Ons is deel van een van die grootste en wydverspreidste familiekringe in Toekies en amper alle verwantskappe van sover as Eldos het in sy saal rondom sy ‘sterfbed’ vergader waar die dood hom tergend in die oë staar … maar ons bede waak oor sy bed. Ons voel die gemeenskap se besorgdheid en liefde na al die oproepe en besoeke by ons verlate ouerhuis, en die hospitaal.

Hieroor is ons uitermate dankbaar teenoor God, die gemeenskap en kerke vir aanhoudende gebede en aanmoedigings van almal.

Sy twee sorgsame dogters, Christelle en Luzanne en hul ma, Linda Dickson, eienares van Little Feet Kleuterskool in Arriesstraat, is die hoofrolspelers in hierdie hartroerende treurspel (wat bystand betref).

Ondertussen sit, bid en wag ons gespanne vir ‘n aankondiging deur die medici by die hospitaal.

Deo volente!

Die Herald wens vir mnr Dickson en sy familie sterkte toe in hierdie moeilike tyd – Red.

Related Articles

Back to top button