Waterlek in Carletonville laat yslike sinkgat in pad

Die munisipaliteit se onvermoë om dienslewering suksesvol toe te pas, is onlangs weer beklemtoon.

Die munisipaliteit se onvermoë om dienslewering suksesvol in Merafong (Carletonville) toe te pas, is onlangs weer beklemtoon toe duisende liter skoon drinkwater vanuit ‘n gebarste waterpyp gestroom het en ‘n stuk van die teerpad in Kaolinstraat, Carletonville uitgekalwe het.

Die pyp is later herstel, maar die gat is net so gelaat. Sondagoggend, 5 November, het die pyp weer gebars en duisende liter drinkwater het die gat vergroot. Motoriste het probeer om die gat te vermy, maar die verbrokkeling het so vinnig vererger dat ‘n sinkgat gevorm het. ‘n Motor het minute later daarin beland.

Omdat die dorp op dolomiet gebou is, is waterlekke fataal. Wanneer ‘n waterlek aangemeld word, neem dit weke voordat die munisipaliteit dit regmaak. Dan is daar gewoonlik ook nie die nodige materiaal vir die werk nie.

Daar is talle ander infrastruktuurprobleme soos geblokte dreine wat nie aandag kry nie. Riool stroom steeds in waterkanale in wat in spruite uitloop.

Inwoners is woedend. Die dorp stink, niks word reggemaak nie en die burgemeesterslid oor infrastruktuur is stil hieroor.

Exit mobile version