Mammie, 99, diep beswaard oor die afwyking van hedendaagse kerke

Haar ontstellende vraag aan my was: "Wat is 'n kerk sonder God?"

Ons laaste oorlewende grootmoeder en grootjie van ons almal, Mammie Sarah Wangra het op 17 Oktober vanjaar die ouderdom van 99 jaar met ‘n glimlag bereik.

Volgens haar geloofsoortuiging skuld die lewe haar nog ‘n jaar om haar gelofte aan God gestand te doen. Ouerlike eer het haar vergoed en tienjaarliks bring sy getrou haar beloofde tiende deel na die Here se huis; as dankoffer.

Sonder om priesterlik te klink, het haar woorde my herinner aan die eed van die vlugteling Jakob na die verraadpleging teenoor sy moordgeswore broer, Esau: “As ek behoue terugkeer na my vader se huis, dan sal die Here my God wees en sal ek my tiende deel aan hom afstaan” (Gen 25:21) en … “hy het behoue teruggekeer na sy vader se woning”.

Ek en die broeder, Twakkies van Wyk, ‘n medelidmaat van haar kerk, het met saamgespanne hande ‘n dankgebed opgestuur, hoewel ons kinderlik in haar teenwoordigheid gevoel het.

Mammie is nes Ouma Koenie Andrews, 96, ‘n volwaardige, aktiewe lid van Trudy’s Nest, ‘n getrou lidmaat van haar kerk en opvoeder van die roekelose jeug. Ek het vir mammie, tydens my gelukswensingsbesoek op haar voete aangetref besig met huishoudelike opruimingswerk, onderwyl kleinkind en ousus Caroline Dickson tee en voeding voorberei het.

Mammie is duidelik diep beswaard oor die verbrokkeling en afwyking van die hedendaagse kerke.

Haar ontstellende vraag aan my was: “Wat is ‘n kerk sonder God?”

Exit mobile version