Klein mensies, groot emosies

Ons onderskat die intensiteit van kinders se emosies.

• Nikki Swart, ‘n remediërende terapeut skryf:

Onthou jy jou kinderdae toe almal saam buite gespeel het?

Die balspeel in die strate voor die son sak en die roomystrok se deuntjie wat almal laat skarrel het vir ‘n geldjie? Onthou jy jou beste vriend op laerskool? Die speletjies, grappies en saam kuier? Maar onthou jy die dag toe jou maatjie besluit het iemand anders vat nou jou plek gedurende pouse? Onthou jy die gevoel van verwerping en eensaamheid?

Hoe gereeld sê ons vir ons kinders “dis nie so erg nie”, of “gaan speel maar met iemand anders”? Wat is die boodskap wat ons dan aan ons kinders gee? Dat hulle miskien ‘n berg van ‘n molshoop maak?

Ons onderskat die intensiteit van kinders se emosies. As grootmense is ons geneig om te vergeet hoe ‘groot’ die eenvoudige dinge in die lewe kan wees. Die dinamiek van ons lewens is om te veg om alles betyds gedoen te kry en sodoende vergeet ons van die wêreld waarin kinders lewe. Wat ons sien as kleinighede mag dalk net iets belangrik wees vir ‘n kind.

Dan verontagsaam ons ons kinders se gevoelens as ons nie tyd het om te luister na die molshoop wat eintlik ‘n berg is nie. Ons wil vinnig troos en die slegte gevoelens beter maak, dan sê ons net “my groot seun huil mos nie”, min wetend dat ons kinders die nodige vaardighede kortkom om self deur die gevoelens te werk.

As ouers en onderwysers is dit ons plig om te verseker dat kinders se lewensvaardighede nie afgeskeep word nie, want hulle leer dit nie vanself nie. Ons weerspreek onsself as ons verwag kinders moet na ons toe kom met hul probleme maar dit afmaak as sinneloos wanneer hulle dit wel doen.

• Vir enige navrae oor kinderontwikkeling en ondersteuning, kontak gerus vir Shané van Tonder by info@livinglinks.co.za of 076 611 1131.

Exit mobile version