Kom ons verbreek die kettings

Toegeruste rehabilitasiekompleks vir dwelm- en alkoholverslaafdes binnekort in Toekies.

• Desmond Dickson skryf:

Een van die mees vooruitstrewende sakemanne in Toekies, Leonard Rooskrantz en sy vrou, Shirley, het hul verdienste in die gemeenskap teruggestort.

Hulle open eersdaags ‘n ten volle toegeruste rehabilitasiekompleks vir dwelm- en alkoholverslaafdes in die industriële gebied oorkant Phillips-begrafnisdienste (Oranjerivierstraat).

Die tekenskrif op die skuifhek spel dit duidelik uit – Toekies sal verrys, met die godsdienstige tema ‘Verbreek die kettings!’

Indien daar enige krisisgevalle voorkom kan inwoners met hul seun, Dean Rooskrantz by die plaaslike slaghuis in verbinding tree. Nog meer verfrissend vir die gemeenskap is die omskepping van die twee kleinsakesentrums in tegniese opleidingsentrums vir jeugdige voornemende ambagsmanne.

Onderwerpe soos sweiswerk, ketelmakery, elektriese tegnieke en vele meer, sal hier aangebied word.

Volgens die hoofman, Charlton Kiewiets behoort hulle binne twee maande klaar te wees met die omskepping. Kandidate sal na voltooiing van die kursusse, vaardigheidsertifikate ontvang wat meer werd is as die ontdekte goud in Hartzstraat.

Enrico Bhana van Wawa pleit steeds by die gemeenskap om met hul griewe vorendag te kom aangesien daar vele afleiding vir die jeug beskikbaar is.

Exit mobile version