Opinion

‘n Ouer se grootste vrees word amper waar

Maak seker oor die plek waarin jy jou kinders sit, voor jy dalk 'n fout maak.

• Anoniem skryf:

Ek is bekommerd en ouers moet asseblief kennis neem.

Een Maandag in Maart was my vyfjarige kleuter vir ‘n uur en 45 minute lank weg. Niemand het geweet waar hy was nie totdat ‘n barmhartige Samaritaan wat ons seuntjie veilig gehou het, hom met ‘n skoolbus afgelaai het.

Die plek wat na hom moes kyk, het hom laat wegraak. Ons sê vreeslik baie dankie aan daardie busdrywer wat ons seuntjie nie net sommer enige plek afgelaai het nie, en hom so veilig gehou het.

Die plek wat hom moes oplaai, soos gereël, was nie betyds nie. My seuntjie moes toe skielik sy eie volwasse persoon moes en sorg dat hy veilig by die naskool aankom. Dit is onaanvaarbaar!

Mens vertrou die mense in wie se sorg jy jou kind los en hoop dat hulle vir jou kind sal omgee soos vir hul eie.

Die plek het geen simpatie of ontsteltenis getoon nie, en gevoel dat ek as die mamma ‘n scene opskop. Die plek het ook glad nie die moeite gedoen om ons as ouers in kennis te stel dat hulle nie ons seuntjie kon opspoor nie. Ek (mamma) het hulle een uur na die aktiwiteit self gevra of my kind veilig is, waarop hulle beantwoord het, “Ons soek hom nog op die rugbyveld”.

Daar is ook gesê dat dit nie hul verantwoordelikheid is om ons kinders op te laai/ na hulle te kyk nie – so wat is dan hul verantwoordelikheid?

Hulle sê ook hy was nie weg nie, hy was net ‘verdwaald’ …! Ek is wel oorbeskermend, maar dit moes nooit gebeur het nie. Dit moes nooit eers ‘n opsie gewees het nie. Wat tragies is, is dat dit gereeld gebeur omdat hulle ook sê hulle “soek gereeld na kinders” en hulle geen beheer het oor kinders se vervoerreëlings nie. Ek is bang vir die dag wanneer ‘n kind heeltemal wegraak.

Ek wil hê elke ouer moet te alle tye weet waar hul kinders is, juis omdat ons vandag so veiligheidsbewus moet wees – spesiaal by aktiwiteite, veral by naskole, omdat jou kind onder hul toesig vervoer word. Dis vir jul eie beswil. Maak seker oor die plek waarin jy jou kinders sit, voor jy dalk ‘n fout maak.

Related Articles

Back to top button