Verander dorp se naam na Slaggatfontein

Geen mens kan meer veilig daardeur ry nie, veral nie in die aand en reën nie.

• Ruthger van Broekhuizen skryf:

Ek het 1993 in Randfontein begin werk en daar gewoon tot 2012. Met vorige besoeke in Randfontein was dit ‘n skoon en netjiese dorp. Die paaie en strate was onderhou en het geen slaggate gehad nie.

Die nuwe plaaslike regering het alles in ‘n goeie toestand oorgeneem.

Daar het alles geëindig. Die nuwe munisipale bestuur het reuse salarisse ontvang, terwyl daar nie meer geld vir onderhoud was nie.

Nou word die publiek gedreig met verkeersbeamptes wat op kontrak aangestel en onwettig is. So word die publiek en belastingbetalers se geld vermors op ‘n klomp onwettige beamptes. Op 23 Februarie het vier van hulle in ‘n staatsvoertuig in Robert Broomrylaan verby ons gejaag. Hulle het vinnig gery sonder om behoorlik by vierrigtingstoptekens te stop, dus kon ek nie die registrasienommer afneem nie.

Hoe kan sulke mense die wet toepas?

Die strate in Randfontein is in ‘n absoluut haglike toestand. Dit is ‘n skande dat ‘n eens florerende dorp in so ‘n toestand verval. Geen mens kan meer veilig daardeur ry nie, veral nie in die aand en reën nie.

Daardie sogenaamde verkeersmense kan eerder gebruik word om die slaggate in die strate en paaie op te vul en dit in ‘n rybare toestand te kry. Die besighede en belastingbetalers ly onder die wanbestuur en toestand van die paaie.

Daar was in 1992/ 93 ‘n veldtog met groot voetspore wat na die dorp toe gelei het met die slagspreuk Bring jou Rand terug na Randfontein.

Die voetspore moet nou weglei van Randfontein met die slagspreuk – Neem jou Rand weg van Randfontein. Die dorp se naam moet eerder verander word na Slaggatfontein.

Exit mobile version