Opinion

Baanbrekerswerk wat ons kinders ondersteun

Leer vind nie net by die skool plaas nie — opvoedkundige konsultant.

• Nikki Swart, ‘n remediërende terapeut skryf:

Ignacio Estrada, ‘n opvoedkundige konsultant, het ‘n stelling gemaak wat ‘n diepgaande invloed het op die veld van onderwys.

Hy het gesê: If a child can’t learn the way we teach, maybe we should teach the way they learn.

Hierdie stelling lê na aan my hart want so gereeld kom ek gevalle teë waar kinders net ‘n bietjie ekstra hulp en aandag benodig, en wat beter sal baat by alternatiewe leertegnieke, of selfs net met ‘n bietjie meer geduld sal floreer. Daarom moet bewustheid geskep word oor kinders se ontwikkeling.

Elke kind se ontwikkeling loop sy eie, unieke pad en elke kind se behoeftes verskil. Remediërende terapie mik om ‘n kind se fondasie vir suksesvolle leer daar te stel op ‘n manier wat elke leerarea vaslê deur middel van multi-sensoriese tegnieke, en wat enige gapings vul wat dalk mag lei tot sekere leerprobleme. Uit my ondervinding kan elke kind op die een of ander manier leer.

Dit is ons verantwoordelikheid as ouers, vriende en familie, om saam met ons onderwysers te staan en ons kinders te ondersteun op maniere wat hul ontwikkeling sal bevorder, veral met kundige begrip. Leer vind nie net by die skool plaas nie.

Die ‘informele kurrikulum’ speel net so ‘n groot rol in kinders se alledaagse leerervarings. Dit wil sê, speletjies saam met pa oor ‘n naweek of ‘n uitstappie winkels toe saam met ma, dra by tot die veralgemening van konsepte wat behandel word by die skool.

Oor die volgende paar weke gaan ek, namens Living Links Wellness, meer inligting gee oor die ontwikkeling van kinders. Vir enige navrae oor remediërende terapie, kontak gerus vir Shané van Tonder by info@livinglinks.co.za.

Laastens wil ek erkenning gee aan Randfontein se onderwysers wat hul harte in hul werk sit en gewilliglik die ekstra myl vir ons kinders stap. Die onderwysers wat uit liefde uit leer, maak die grootste verskil in ons kinders se lewens.

Related Articles

Back to top button