Opinion

Jy’s nie ‘cool’ met jou ‘sound’ nie

'Lyk my sulke mense is niks gepla oor wie hulle irriteer of wie hulle steur nie.'

• Anoniem skryf:

Geagte mnr, na aanleiding van u brief wat gaan oor nuwe padregulasies wil ek net vra wat dit gaan help as hulle almal toets by bestuurslisensiehernuwing?

As dit die persoon se karakter is om soos ‘n vark op die pad te wees, sal die toets tog niks daaraan verander nie.

Ek stel voor wanneer iemand vir dronkbestuur gevang word, moet sy of haar lisensie en motor weggeneem word en moet hulle nooit weer toegelaat word om te bestuur nie. As iemand die padreëls oortree, laat so ‘n persoon getoets word soos by lisensie-uitreiking.

Dan wil ek ook iets sê oor mense met geraasstelle in hul motors. Klink soos donderweer of elektroniese donderweer. Lyk my sulke mense is niks gepla oor wie hulle irriteer of wie hulle steur nie.

Ons het voor ‘n bank gewag dat dit moes oopmaak toe ‘n jong lat met sy motor met sy elektroniese donderweerklanke agter ons stop. Op TV het hulle ongeveer 10 jaar terug gewaarsku dat jy sewe minute in so ‘n geraas permanente oorskade opdoen en dat jou senuwees ook daardeur geaffekteer word. Dit was ‘n oorspesialis wat dit gesê het.

Dis so ‘n plaag wat ons land getref het. Dis net ‘n klankplaag en dit lyk of die plaag nie aandag kry om uitgeroei te word nie. So, jy wat so ‘n geraas in jou kar het, neem kennis. Jy’s nie cool nie. Jy sal gehoorprobleme hê lank voor jy oud is.

Related Articles

Back to top button