Kinderlik ongelukkig met munisipaliteit

Hoeveel ander bewoners het dalk ook dieselfde ondervinding.

Ek is kinderlik ongelukkig met die diens wat ek by die plaaslike munisipaliteit kry.

Vir jare beloop my munisipale heffing in die orde van R900 maar selde meer as R1 000 – tot so ‘n jaar gelede. Toe skiet dit die hoogte in tot, as ek gelukkig is, R1 500 per maand.

So vier maande gelede was daar ‘n ‘waterlek’ (aan die buitekant van die perseel) waarvoor ek moes pa staan. Die verbruik kom, in vergelyking met my gebruik in Mosselbaai (ek het ‘n groot tuin en was my motor gereeld) baie verdag voor. Toe kom die samesmelting met Westonaria. at ‘n gemors.

Ons as Randfontein-inwoners word ingelig dat ons een maand ‘agter’ is ten aansien van die water wat gehef is en dat dit in Oktober 2016 by die maandelikse rekening gevoeg word. (Ek sal graag wil sien waar dit ontstaan het want vir die afgelope 10 jaar betaal ek nog elke maand die waterheffing.)

Ook nooi die munisipaliteit verbruikers uit om hulle te kontak vir enige reëlings of onduidelikhede. Net hier begin die frustrasie.

Ek woon in Mosselbaai en het ‘n hele dag spandeer om die gelyste nommers te skakel. As jy gelukkig is (een uit 30 oproepe) word jy oorgeplaas net om dan afgesny te word. Uit radeloosheid skakel ek toe ‘n eiendomsagent en vra of hulle nie dalk ander kontaknommers het nie, net om te verneem dat hulle net so sukkel. Selfs korrespondensie gerig aan die eposadresse wat verskaf word, kom onafgelewer terug.

Ek het toe iemand versoek om kontakbesonderhede te kry en stuur toe op 15 November 2016 ‘n epos na die adres wat ek so bekom het, waarin ek ‘n betalingsvoorstel doen. Volgens my rekenaar is die epos wel afgelewer. Geen reaksie. Ek volg op 23/11/2016 op, maar (weereens afgelewer) steeds geen reaksie nie.

Ten einde my bereidwilligheid te toon het ek, soos op die Munisipale Kennisgewing versoek, ‘n direkte kontantoorplasing van R1 200 op 7/11/2016 by ons plaaslike bank gedoen (soos ek elke maand vir meer as 18 maande reeds doen).

Groot was my verbasing toe ek die nuwe staat (gedateer 23/11/2016) kry en sien dat die R1 200 krediet nie op die staat verskyn nie. Rekonsilieer die mense dan nie hul state nie? Nog groter was my verbasing toe my huurder (wat nie ‘n party tot my ooreenkoms met die munisipaliteit is nie) ‘n dreigboodskap kry dat betaling binne 24 uur moet geskied om stappe te vermy.

Ek vind dit, om die minste te sê, uiters onaanvaarbaar. Daardie munisipaliteit maak soos hulle wil sonder om hulle werk reg te doen. Ek sal dit waardeer as hierdie skrywe geplaas kan word want wie weet hoeveel ander bewoners dieselfde ondervinding het.

Vriendelike groete.

>

Exit mobile version