Die geraas – hoe lank nog?

Jy kan kla tot jy blou is in die gesig, niks word daaraan gedoen nie.

Dit is ‘n ewige frustrasie in Westonaria met die drankplekke en shebeens wat tot wie weet hoe laat op Sondae-aande hulle musiek so hard speel en so hard kuier dat die mense rondom nie kan lewe nie.

Bel Westonaria Polisiestasie en dan word jy ingelig dat hulle net een patrollievoertuig het wat ongelukkig by ‘n ongeluk is. Daarna het hy nog drie klagtes om te gaan uitsorteer voordat hy by jou klagte kan uitkom.

Maandae-oggende is die paaie voor die plekke besaai met gebreekte bottels. Ek het al twee keer pap wiele gehad weens die glasstukke wat in die pad lê.

Randfontein se shebeens/ drankwinkels is op ‘n Sondagmiddag toe. Nou wat maak Westonaria so spesiaal dat hulle nie die reëls kan volg nie?

Al die shebeens in Westonaria is chaoties. Op ‘n Maandagoggend lyk dit of daar ‘n massa-optog verby is, of nee, meer soos ‘n ashoop.

By een spesifieke plek met massiewe luidsprekers speel die musiek op ‘n Sondag tot na 12, terwyl die gaste op kampstoele voor die winkel sit. Dieselfde gebeur by een spesifieke hotel. Hoekom kan Westonaria se kuierplekke nie toegemaak word op ‘n Sondag nie?

Jy kan kla tot jy blou in die gesig is, niks word daaraan gedoen nie. Hoekom is daar reëls as dit nie gevolg word nie?

Waar is die owerheid, of word ‘n ‘blinde oog’ maar net gegooi?

Mens kan ook net soveel vat. Patrollie voertuie ry verby en niks word gedoen nie.

Miskien moet Metro intree want soos dit lyk verdra hulle nie sulke gedrag nie.

Exit mobile version