Dadoo ‘n skande vir mediese professie – ‘ek stem’: 80-jarige

Die klinieke elders is net so tragies.

Rakende Yusuf Dadoo skande vir mediese professie.

Ek is regtig bly dat daar mense is wat nou sien of weet wat aangaan veral die kliniek waar ‘n spesifieke dokter die botoon voer.

Ek het 22 jaar van verpleging agter die rug en wat ek ondervind het in hierdie hospitaal is so tragies. Ek het te doen gekry met die dokter nadat ons vanaf Worcester hierheen gekom het. In Worcester was puik diens. Ek is in 2002 gediagnoseer met kroniese artritis, hoë bloeddruk; en later in 2011 as diabeet met hartversaking. Gedurende 2006 het ek ‘n operasie gehad wat ‘n sukses was.

Toe ek die dokter vir kramppille vra, het hy geweier en gesê ek moet een en ‘n half teelepel sout soggens eet. My bloeddruk skiet toe daarna die hoogte in, en hy blameer my vir nalatigheid en ruk my in sy kantoor rond in die teenwoordigheid van my man.

Ek was in Worcester op ‘n kapsule wat ek volgens my bewyse lewenslank moet gebruik. Hier moes ek elke ses maande na Helen Joseph toe gaan vir ‘n voorskrif. Dan kry ek die kapsule vir drie maande en dan kanselleer die dokter, maar wat word van die res? Ek is 80 jaar oud en moedeloos omdat my medikasie nie standhoudend is nie.

Ek het by ‘n suster gekla maar sy het my net geïgnoreer. Daar is al baie pasiënte wat kla maar niks word daaraan gedoen nie. Die dokter kanselleer net. Dis ‘n skande vir ‘n hospitaal. Die klinieke elders is net so tragies.

Die Herald het die naam van die betrokke dokter en suster weerhou — Red

Exit mobile version