Suid-Afrika, ons het baie werk om te doen

'Die pragtige Suid-Afrikaanse skip sink'

• Corrie Louw skryf:

Soms gebeur ‘n storie sommer net so. Ek het pas teruggekeer van ‘n stappie na die winkels in Randgate en hulle soos oral anders teëgekom.

Ja, die ridders van die wapad, die armes en werkloses – die mensies wat bloot bedel, of in ‘n rolstoel sit en bedel, sommige selfs met ‘n baba by hulle.

In ‘n ander kategorie is die ouens wat karre oppas. Meeste van hulle probeer darem ‘n werkie doen – alhoewel sommiges ook maar woes lyk.

Is hierdie nie die punt van ‘n pitsweer in Suid-Afrika nie? Is dit nie maar net tekens van oorbevolking, werkloosheid, morele agteruitgang en ander onaangenaamhede in Suid-Afrika nie? Smeer ons nie maar net salfies oor die sweer met hier en daar ‘n fooitjie nie? Veel meer kan seker gesê word.

Tuisgekom dink ek aan die storie van die bekende persoon wat vir drie dae soos ‘n boemelaar aangetrek en gewerskaf het. Daarna vra hulle vir die persoon wat die moeilikste was.

Die antwoord was nie honger, koue of geen herberg nie – wel die feit dat omtrent geen weldoener die persoon in die oë gekyk het nie! Steek ons hier in Randfontein ook maar net die hand so half vies en terloops uit en stop die persoon kleingeld in die hande – sonder om te kyk en haastig om weg te kom?

Die ander storie gaan oor die meisietjie wat pragtig en duur aangetrek in ‘n restaurant in Italië ingestap het. Dadelik was sy die middelpunt van belangstelling en is op die hande gedra.

‘n Dag later gaan sy weer daar in – vuil, verslons en in vodde geklee. Niemand het aandag gegee nie en ‘n kliënt het selfs gevra dat sy verwyder word!

Wat probeer ek sê? Suid-Afrika, ons het baie werk om te doen. Regering – dink! Ek gaan nie daar wees om aan te hou in die orkes speel terwyl die pragtige Suid-Afrikaanse skip sink nie.

Dankie tog vir ander genadetjies.

Exit mobile version