Dienslewering soos ‘n getjommel in vandag se rugby

Mens sou verwag dat daar so kort voor ‘n verkiesing oplewing, pogings tot verbetering ensovoorts sal wees.

‘n Bekende oud-rugbykommentator het as ‘n wedstryd so los en saai, op pad na nêrens is gesê dis nou ‘n losgetjommel en so sy mismoë te kenne gegee.

Nou ry jy koes koes, soos in ‘n hinderniswedren om slaggate op belangrike deurpaaie in Randfontein te vermy – paaie wat al soos ‘n lappieskombers lyk.

Die verstopte drein by die huis begin al ruik na ‘n week of wat, maar eers na ‘n paar oproepe en bedekte dreigemente slaan daar iemand uit om die problem aan te spreek.

Ons kyk en luister na die nasionale nuus, iets wat al moeiliker word om te sluk.

Jy hoor van hordes munisipaliteite in die land wat of bankrot is of onder administrasie geplaas is. Hulle skuld Eskom en ander diensverskaffers miljarde! Om van korrupsie te praat is nie eers nodig nie.

Verkeerswetstoepassing is iets van die verlede en so doen bestuurders net wat hulle wil. Jy sien hoe ‘cruise’ ‘n persoon oor ‘n stopstraat, kar onder die blad vasgeknyp en selfoon teen die oor geplak. Nou moet mens maar vir andere kyk en ook koes koes bestuur.

Het u al gesien hoe besaai met vullis is besige openbare, besighedheids en ander plekke en strate deurgaans maar veral na naweke?

Dis ‘n skande om die toestand van sekere geboue en tuine te sien.

Mens sou verwag dat daar so kort voor ‘n verkiesing oplewing, pogings tot verbetering ensovoorts sal wees. Heerlike voorverkiesing propaganda en daardie ou opwindendende atmosfeer in die aanloop tot die verkiesing. Helaas ervaar jy niks. Ook dit het in die slag gebly en klink dit vir my of minderhede sommer al klaar oorgee en in apatie verval.

Tydens die 93/94 oorgangsonderhandelinge was dit die idee om regeringsgesag af te wentel na derde of munisipale regeringsvlak. Myns insiens het ons ‘n toets gedop en vir ons ‘n lat gepluk. Die ding werk nie!

Wat ‘n losgetjommel.

Exit mobile version