Opinion

Te veel klem op plaaslike rugbywedstryde

Ek weet waar my kinders hulle skoolloopbane gaan voltooi en ‘n rugbywedstryd gaan nie my keuse beïnvloed nie.

Daar is iets rakende die Randfontein-skole en hul sport wat my die afgelope paar jaar baie pla.

Ons weet die plaaslike hoër- en laerskole het die afgelope paar weke teen mekaar meegeding en vir sekere skole het dit beter afgeloop as vir ander.

Alhoewel dit net ‘n rugbywedstryd is word die belangrikheid van hierdie wedstryde hopeloos te veel beklemtoon. Die skole gebruik dit as bemarking, maar meeste ouers weet buitendien waar hulle kinders vir laer- en hoërskool ingeskryf gaan word.

Dit wil voorkom of die skole net fokus op die wedstryde teen plaaslike skole en nie op die wedstryde teen skole buite die dorp nie. As ek na die rugbyuitslae van die afgelope paar jaar kyk, kan ek met sekerheid sê dat die Randfontein-skole nie eers ‘n 30 persent wenrekord teen skole buite die dorp het nie.

Die twee Afrikaanse laerskole op die dorp se wenpersentasie teen ander dorpe se laerskole is nie eers 15 persent nie.

Jare terug het hierdie twee skole vir geen skool in Krugersdorp of Roodepoort teruggestaan nie.

So af en toe kom daar ‘n ouderdomsgroep deur wat kan meeding, maar dit gebeur baie min. Dit is presies dieselfde met die twee Afrikaanse hoërskole in die dorp. ‘n Paar jaar terug het hulle met baie sterker opposisie meegeding en beter gevaar.

My eintlike bekommernis is die hoeveelheid klem wat op ‘n plaaslike rugbywedstryd geplaas word terwyl ons almal weet sport behoort nie jou kind se belangrikste aktiwiteit te wees nie. [Dan is daar] die manier waarop onderwysers hulself langs die sportveld en na die tyd op sosiale media gedra …

Persoonlik dink ek skole moet onderwysers belet om enige skoolaangeleenthede op hul persoonlike blaaie te bespreek.

Ek twyfel of ‘n onderwyser van Grey Kollege ‘n bespotting van ‘n Affies-rugbyspan op sy Facebook-blad gaan maak al het hulle vanjaar met ‘n rekordtelling gewen. Gaan lees gerus die berig Pta-spogskool gaan nie siel vir rugbyseges verkoop.

Ons skole behoort na meer te strewe as net om teen ‘n plaaslike skool goed te doen. Elke skool in ons dorp het sy sterkpunte en dit is tyd dat ons saamspan om weer ‘n krag aan die Wes-Rand te wees en nie net in Randfontein nie. Ek weet waar my kinders hul skoolloopbane gaan voltooi – ‘n rugbywedstryd gaan nie my keuse beïnvloed nie.

Onthou: verloor met waardigheid en wen met nederigheid!

Related Articles

Back to top button