Laat staak asb jul nuttelose dreigemente en uitlatings

Stop julle snert en mooi loop.

Na aanleiding van die blykbare dispuut tussen ene Pieta Hefer en Boet Snyman oor die doen en late van ’n prediker Johan Smit, net vlugtig die volgende.

As ek die ding reg verstaan is die drie van julle ‘hoog heiliges’. Die klappe word links en regs uitgedeel en nogal ter stawing van tekse uit die Woord! Met ander woorde, die Hemele is ook in die gedrang, punt – poef! Gewaagd, menere gewaagd!

Nou, aangesien die ding so ver gevorder het en u drie bulle reeds warm onder die koller is, so kordaat en vreesloos mekaar die stryd aansê – wat van ’n verdere uitdaging aan u? Bewys u onverskrokke en onwankelbare toewyding aan ons Koning en staak die onderlangse nuttelose dreigemente en uitlatings.

Vat hande (onthou die verbrokkeling van die huis kom van binne!) en help my asseblief eerder om die kloutjie by die oortjie te kry met die ding wat my al jare kwel en geen ‘heilige’ ’n antwoord voor het.

Dis juis nou die tyd daarvoor. Die sogenaamde Paasfees. Hindu, Moslem, Mohammedaan, Christen, satanis, barbaar of watewwer – die dag word wêreldwyd gevier. Langnaweek en al!

U behoort net so goed soos ek te weet die enorme prys en deur wie dit betaal is op hierdie dag.

Wyd en suid word die dag gepromiveer. Kyk gerus neffens onder Pieta se plasing – bladsy 4 van die Herald – die advertensie met betrekking tot ’n konferensie elders. Nou wat bodder my?

Die d*nnerse haas en eier! Wat het ons Koning se enorme daad te doen met ’n haas (die aggressiefste teler in die diereryk) en ’n eier (die geliefkooste onbeantwoorde rusiepunt onder besopenes by letterlik elke suipgat – wie was eerste die hoender of die eier?). Sies! ’n Duisendmaal sies.

Die drie van julle, ‘kenners van die Woord’, ek vra mooi: help my om die spesifieke teks te kry waar ek duidelikheid en berusting sal kry oor hierdie fenomeen!

Dit moet êrens in die Woord wees omrede dit nie so is nie, julle drie kundiges eerder daaroor sou twis – nie waar nie? Ek het my al disnis gesoek – kry dit nie!

Stop julle snert en mooi loop.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version