Opinion

Waarvoor betaal ons? – AfriForum

Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika as die land met die agtste hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld aangewys is.

AfriForum het ‘n veldtog oor inkomstebelasting van stapel gestuur nadat skokkende statistiek van 2015 aandui dat die regering in die 2015/2016-belastingjaar weereens nie sy verantwoordelikhede nagekom het nie.

Dit word al hoe duideliker dat regering misbruik maak van belastingbetalers omdat inkomstebelasting styg terwyl die regering nie sy primêre verpligtinge nakom nie.

Inkomstebelasting het 36,45 persent van die totale begroting van die 2015/2016-belastingjaar beloop. AfriForum het gaan kyk na wat die regering tydens die 2015-begrotingsrede belowe het en of belastingbetalers werklik kry waarvoor hulle betaal. Die uitslae was skokkend.

Die nasionale slaagsyfer vir matrikulante het met 5,1 persent gedaal het terwyl R203 miljard volgens die 2015/2016-begroting vir basiese onderwys begroot is.

Suid-Afrika het verlede jaar die laagste plek op die wêreldranglys vir die gehalte van wiskunde- en wetenskapsonderrig behaal – ten spyte daarvan dat Suid-Afrika meer geld op onderwys as talle ander lande spandeer het.

Die regering het nie net in sy plig gefaal om openbare onderwys op te skerp nie, maar ook sy primêre verantwoordelikheid om Suid-Afrika se inwoners te beskerm en hul veiligheid te verseker. In 2015 het die misdaadsyfer met 0,09 persent gestyg en meer as 2,2 miljoen misdade in Suid-Afrika gepleeg.

Dit skep kommer oor waarop die R171 miljard wat vir sekuriteit, openbare orde en veiligheid beskikbaar gestel is dan spandeer is.

Werkloosheid in die derde kwartaal van 2015 sou nie met 1,2 persent na 25,5 persent toegeneem het as die regering die belastinggeld doeltreffend gebruik het om werkloosheid te beveg nie.

Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrika as die land met die agtste hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld aangewys is nadat die aantal werklose mense tussen kwartaal 2 en 3 van 2015 met 188 000 toegeneem het.

AfriForum beplan om voor die 2016/2017-begrotingsrede ’n brief te rig aan mnr Pravin Gordhan, minister van finansies, om antwoorde op die regering se leë beloftes van 2015 te kry.

Related Articles

Back to top button