Opinion

Dronkes baklei op ons sypaadjie

Ons is al raadop, en dis nie net ons wat kla nie, ander mense rondom die taverne ook.

Ek is van die Rikasrus-plotte en ons het ‘n groot probleem met onwettige drankverkope hier.

Oorkant ons het ‘n taverne oopgemaak maar niemand is vooraf daarvan in kennis gestel nie. Toe ons weer kyk, toe adverteer hulle die taverne se specials.

Hulle sê hulle het ‘n wettige dranklisensie maar ek weet nie hoe dit sou moontlik wees nie. Nie eers 500m daarvandaan nie is daar twee kerke langs dieselfde pad as die taverne. Sedert hierdie taverne oopgemaak het, kry ons van Vrydag- tot Sondagaand geen nagrus nie en as die taverne 2vm sluit baklei al die dronk mense voor ons erf op die sypaadjie. Soms veg hulle met messe en raak gewelddadig teenoor mekaar.

Ons het ‘n klein seuntjie en dit het al vele kere gebeur dat mense hom na die draad toe roep en hom sweets gee. Dit kan dalk onskuldig wees, maar ek’s eerder versigtig.

Die taverne is al twee maande oop en van toe af moet ons minstens een maal elke week merkers van ons plot af verwyder. Saans wanneer die taverne sluit word ons honde en ook die huise met klippe gegooi.

Ons het al by die buurtwag, GPF en polisie gekla. Niemand kan iets doen nie want daar word ‘n lisensie in die taverne vertoon. My vraag is, as daardie lisensie wettig is hoekom is niemand in kennis gestel dat ‘n taverne oopgemaak gaan word nie, en dit in dieselfde straat as twee kerke?

Binne in die taverne is daar komberse op die vloer sodat die kinders daar kan lê en slaap terwyl die ouers drink. Ons hoor tot binne die huis hoe hulle vloek en baklei, dit met kinders in die taverne. Soms hoor ons hoe die kinders huil.

Ons is al raadop en dis nie net ons wat kla nie – ander mense rondom die taverne voel ook so.

Groete.

Related Articles

Back to top button