Eskom kan vanjaar selfs 17 persent meer eis

Dit sal 'n besluit wees wat Suid-Afrikaners laat rooi sien.

Eskom vry na ’n moontlike elektrisiteittariefverhoging van tot soveel as 17 persent in 2016 – ’n moontlike besluit wat Suid-Afrikaners laat rooi sien.

Dít volg nadat Eskom in November hul aansoek om R38 miljard te verhaal (wat hulle op 31 Maart 2015 ingedien het), onttrek het en in ’n vreemde stap ’n nuwe aansoek ingedien het – sonder om voldoende rede daarvoor te gee óf die voorgeskrewe proses te volg.

Die proses behels kortliks dat Eskom kwartaalliks ’n verslag oor hul finansiële sake, wat oor ’n jaar strek by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) moet indien . Dié kwartaallikse verslae word dan gebruik om moontlike prysverhogings meer akkuraat te voorspel en vroegtydig aan verbruikers deur te gee.

Eskom het in 2015 ’n 25-persent verhoging in elektrisiteittariewe versoek, maar Nersa het dit afgekeur nadat die publiek, korporatiewe Suid-Afrika en ander organisasies teen die voorgestelde verhoging beswaar aangeteken het. Dit is die mag wat ons het as ons saamstaan.

Lede van die publiek en privaat sektor het ’n baie belangrike stem, en moes voor Woensdag 13 Januarie 2016 om 4.30nm skriftelike versoeke by Nersa ingedien het om die openbare verhore van Eskom se aansoek by te woon of om kommentaar daarop te kan lewer.

Toestemming kan skriftelik verkry word deur ’n versoek te rig aan me Triselda Mogoai by publichearings@nersa.org.za.

Die openbare verhore van Eskom se aansoek word op 4 en 5 Februarie tussen 8.30vm en 5nm by die Gallagher Konferensiesentrum in Richardsweg, Midrand gehou.

Daar vind ook ander openbare verhore buite Gauteng plaas en die openbare en privaat sektor word aangemoedig om die volledige rooster aan te vra deur me Mogoai by 012 401 4715 te skakel. Die volledige rooster is ook by AfriSake beskikbaar.

Exit mobile version