Burgeroorlog in Gauteng heers

'Voorvalle van geweld het die afgelope tyd handuitgeruk'.

Weens verskeie geweldadige optogte en voorvalle van xenofobie wat die afgelope maand in dele van Gauteng plaasgevind het, is dit uiters noodsaaklik dat die premier, David Makhura ‘n algehele noodtoestand in Gauteng afkondig.

Die VF Plus in Gauteng sê dat daar ‘n staat van burgeroorlog in dele van Gauteng heers en dat die betrokke metropolisies nie in staat is om wet en orde te handhaaf nie.

Voorvalle van geweld het die afgelope tyd handuitgeruk in Soweto wat ook uitgebrei het na dele van Pretoria en gister ook gelei het tot die afbrand van plaaslike regeringsgeboue in Randfontein.

Die VF Plus LPW in Gauteng, Philip van Staden het in reaksie op die jongste gebeure gesê dat dele van Gauteng in ‘n algehele burgeroorlog gedompel is en die feit dat owerhede nie wet en orde kan handhaaf nie, is ‘n aanduiding dat die ANC-regering in die provinsie nie meer in staat is om effektief te kan regeer nie.

“’n Noodtoestand is nodig. Die premier is besig om ‘n blinde oog op die situasie in Gauteng te gooi in die hoop dat die probleem sal verdwyn. Die feit van die saak is dat die probleem al hoe groter word en die premier moet besluit of hy die veiligheid van die provinsie se burgers in ag neem of nie.”

Die VF Plus sê ook dat daar nou meer geweld Gauteng voorkom as in die sogenaamde ‘apartheidsjare’ en dat onskuldige mense met hul lewens hiervoor betaal. Die VF Plus is verder ook bekommerd dat die geweld verder kan uitkring in die provinsie wat nadelige gevolge kan inhou.

Exit mobile version