Bekommerd oor grusame foto

Van wanneer af is dit ons polisie se beleid om misdaadtoneelfotos aan verregse, of hoegenaamd enige politiekgeoriënteerde organisasie of publikasie beskikbaar te maak?

• Annoniem van Randfontein skryf:

Ek het ‘n tydjie gelede by die werk gesit en op die internet rondgekrap.

Ek kom toe op ‘n ver-regse webtuiste af wat nuus stories en ander kommentaar op dié webblad laai.

Ek was baie geskok om op dié webtuiste te lees van ‘n Randfontein skietvoorval wat ‘n rukkie gelede gebeur het en om als te kroon was daar ‘n grusame foto by dié storie geplaas.

Die foto, van ‘n man wat in ‘n kar doodgeskiet is, wys waar die patroon die skedel verlaat het.

Die man se kop is byna weggeskiet.

Ek kan nie dink hoe so ‘n foto op enige webblad beland nie.

Hoe gebeur so iets en is diegene wat in beheer is van sulke tonele nie veronderstel om toegang tot die toneel te beperk nie?

Ek het onthou dat die storie oorspronklik in die Herald, asook in die Citizen verskyn het en besluit om te bel en uit te vind.

Dit draai toe uit dat die Herald wel die storie gedek het, en volgens die betrokke joernalis – nou die redakteur – was hy heeldag op die toneel totdat die liggame verwyder is, en is die toneel deur die polisie beperk en die media is net toegelaat om van ‘n afstand af fotos te neem – ook eers nadat die liggame bedek is.

Dit het my regtig ontstig en ek verstaan steeds nie hoe die foto op die tuiste beland het nie, tensy die fotos deur die polisie, of dalk ‘n polisiebeampte aan die webtuiste beskikbaar gemaak is.

Van wanneer af is dit ons polisie se beleid om misdaadtoneelfotos aan verregse, of hoegenaamd enige politiekgeoriënteerde organisasie of publikasie beskikbaar te maak?

Exit mobile version