Slim, slimmer, slimste!

Twee onderwysers van RAM het hul Nagraadse Diploma in Skoolbestuur en Leierskap met lof geslaag.

Twee van Laerskool Randfontein se onderwysers is trots om te sê dat hulle elk ‘n Nagraadse Diploma in Skoolbestuur en Leierskap verwerf het.

Annelien Bezuidenhout en Celeste Pretorius het albei cum laude aan die Universiteit van Pretoria gegradueer.

Albei is deur die Departement van Onderwys gekies as deel van ‘n ontwikkelingsgeleentheid om die tweejaarkursus te voltooi.

Annelien is tans ‘n graad drie-onderwyser en departementshoof vir die Grondslagfase, terwyl Celeste Engels vir die graad vyf-leerders gee en sy is departementshoof vir graad vier tot sewe.

Oor haar besluit om verder te studeer het Annelien gesê, “Die geleentheid het homself voorgedoen en ek was opgewonde om dit aan te gryp. Ons moet elke dag op ons voete kan dink en is nooit te oud om te leer nie. Ek wil altyd net ‘n inspirasie vir my leerders en mede-kollegas wees en ek voel ek het dit behaal.”

Albei raai ander aan om ook verder te studeer, Celeste het genoem ‘vat net een dag op ‘n slag’. Annelien het bygevoeg dit is ‘n groot verantwoordelikheid en gesê die geheim is om ‘jou tyd goed te bestuur en nie moed te verloor nie’.

Celeste het gesê sy hoop vir bevorderingsgeleenthede in die toekoms met die diploma. Vir Annelien is die trots egter genoeg, ‘hoewel ek nou nog ‘n graad agter my naam het, bly ek my eie beskeie self en is baie tevrede waar ek myself nou in my loopbaan bevind’.

“Sonder my familie en vriendinne se ondersteuning sou ek dit nie kon doen nie. Dankie aan almal wat hierdie graad vir my ‘n werklikheid gemaak het. Dankie ook aan my Hemelse Vader vir Sy goedheid en guns in my lewe. Henry Ford het gesê ‘anyone who stops learning is old, whether at 20 or 80. Anyone who keeps learning stays young’,” het Annelien bygevoeg.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version