Schools

RAM-boogskutters vaar skitterend in Kimberley

Laerskool Randfontein se boogskietspan het tydens die skoolvakansie hul talente ten toon gestel by die AGA Interskole SA Boogskietkampioenskappe.

Laerskool Randfontein se boogskietspan het verlede maand aan die AGA Interskole SA Boogskietkampioenskappe in Kimberley deelgeneem.

Skoolwoordvoerder sowel as die afrigter en spanbestuurder, Annie Nolan, het gesê die twee beste skole van elke provinsie is betrokke. In totaal was 1 367 skuts in aksie – 21 van die skuts was graad vier tot sewe leerders van RAM.

“Die span het verbasend goed gevaar en ’n algehele agtste plek behaal,” het Annie gesê.

Theresia Cilliers en Casey-Lee Adam is albei in die provinsiale spanne ingesluit en het ook aan die AGA Interprovinsiale SA Boogskietkampioenskappe deelgeneem.

Theresia Cilliers. Foto ingestuur.

“Ek het ‘n behoefte gesien dat Hoërskool Bastion se skuts ook aan die toer moet deelneem. Ek het die skuts die geleentheid gebied om saam met ons toergroep te toer. Die groep het gegroei en het uit 35 leerders en agt volwassenes bestaan.”

Hulle het in Elizabeth Conradie Skool se koshuis gebly. Elke aand het hulle aan aktiwiteite deelgeneem, van sokkie tot vasvrakompetisies en fliek onder die sterre, en natuurlik die Springbokke se wedstryde ook gekyk.

“Die boogskiettoer het ook aan meeste van die skuts hul eerste geleentheid gebied om Gauteng te verlaat en die Noord-Kaap provinsie te sien. Dit was ‘n absolute belewenis gewees.”

Die groep het Felidae Leeuplaas, Magersfontein Slagveld, McGregor Museum, Transport Museum en Kimberley se Groot Gat besoek.

Die span is by Kimberley se Gat. Foto ingestuur.

“RAMkat boogskiet wil van die geleentheid gebruik maak om almal wat ons gehelp het om in Kimberley te kom, te bedank. Die gemeenskap van Randfontein het hul harte en beursies vir ons oopgemaak. Julle maak ons trots om te sê ons kom van Randfontein af!”

Die span by die Transport Museum. Foto ingestuur.

“Die boogskietseisoen het nou amptelik tot ‘n einde gekom en dit het behoorlik op ‘n hoë noot geëindig. Ons kan nie wag vir die 2025-seisoen en al die hoogtepunte wat dit gaan bring nie,” het Annie gesê.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button