Rappie lig gesogte Curriebeker saam met Haaie

Die sewejarige Keagan Croukamp se rugbydrome het waar geword toe hy weer vir die Haaie kon uitdraf, dié keer tydens die Curriebeker-eindstryd.

Die Laerskool Rapportryer-leerder Keagan Croukamp (7), het onlangs vir die Haaie uitgedraf tydens vanjaar se Curriebeker-eindstryd teen die Leeus op Emirates Airline Park in Johannesburg.

Novashni Chetty het Keagan genooi om vir die Haaie uit te draf omdat hy ‘n groot aanhanger van die rugbyspan is. Hy het reeds in 2023 die kollig gesteel nadat hy saam met die Haaie uitgedraf het tydens hul Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting teen die Stormers op die DHL-stadion in Kaapstad.

Volgens Keagan se ma, Elaine, was dit vir Keagan ’n groot voorreg.

“Die feit dat hy saam met Eduan Keyter [een van die Haaie-agterspelers] die gesogte Curriebeker-trofee op die veld kon vashou, was ‘n groot droom wat waar geword het. Die oomblik het hom nog meer vasbeslote gemaak om eendag as hy groot is vir die Haaie te speel,” het sy verduidelik.

Keagan Croukamp (7) meet kragte teen die Leeus se gelukbringer.

Keagan droom selfs daarvan om ‘n Springbok te word. Tans is Cheslin Kolbe, Eben Etsebeth en Eduan Keyter sy rolmodelle.

As speler blink Keagan ook uit vir Laerskool Rapportryer se o7A-rugbyspan.

“Hy geniet dit baie om saam ons rugby te kyk. Hy leef homself uit in elke wedstryd op die skerm. Sy passie vir rugby het as jongkind begin en hy hou die meeste daarvan om te hardloop en tekkels te maak,” het Elaine uitgespreek.

Benewens sy groot liefde vir rugby, oefen Keagan ook mini-krieket, mini-hokkie, skaak en Jukskei.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version