Duran ‘n uitblinker op die sportveld

Rappies-leerder Duran Crous neem die voortou in verskeie sportsoorte waarvan sy onlangse prestasies landloop insluit.

Duran Crous (11) van Laerskool Rapportryer het vanjaar selfs sy eie verwagtinge as atleet en sportman oortref.

Duran het onlangs aan ‘n landloopliga vir seuns onder 11 deelgeneem en volgens sy ma, Priscilla, het hy 17de uit ‘n groot veld van 40 geëindig.

Alhoewel Duran die enigste o11 Rappies atleet was wat top 20 gehaal het, moet hy steeds gewys wat in hom steek tydens die opkomende D2 Landloop Liga. Priscilla het bygevoeg haar seun het in 2022 en 2023 die titel as Beste Landloop Seun van die Jaar ontvang.

Bo en behalwe sy landloopprestasies het hy vanjaar ook in ander baan- en velditems uitgeblink. Boonop is Duran vir drie agtereenvolgende jare aangewys as Victor Ludorum, insluitend vanjaar.

Verder het Duran ook in rugby uitgeblink en verlede maand aan die Wes-rugbyproewe deelgeneem. Duran is tans in die o11 A-span.

Wat buitemuurse aktiwiteite betref, blink Duran uit as klubrugbyspeler en deel van Khosa se gemengde sewesspan.

Hy het gesê sy daaglikse motivering is om van sukses te droom en hy probeer om elke klein oorwinning te vier. Dit is vir hom belangrik om elke dag dankbaar en nederig te wees.

“Vir Duran gaan sukses nie net oor talent nie, maar eerder oor toewyding, deursettingsvermoë en dissipline. Hy het gesê elke atleet weet die pad na sukses word deur harde werk bepaal,” het sy ma bygevoeg.

Duran het afgesluit deur te sê: “Die enigste beperking op wat ‘n mens kan bereik, is die een wat jy vir jouself stel. Jou reis is uniek en jou potensiaal is onbeperk. Ek is dankbaar vir die talente waarmee God my geseën het.”

Exit mobile version