Schools

RAM-leerder spog met Wes-Distrik klere vir Judo

Rossouw Fourie, 'n leerder by Laerskool Randfontein, bereik nuwe hoogtes in Judo.

Rossouw Fourie (7), ‘n leerder van Laerskool Randfontein, het op 11 Mei aan die Wes-Rand proewe deelgeneem waarna hy sy Wes-Distrik klere ontvang het.

Rossouw het vertel hy neem aan judo deel vandat hy vier is. Die klub waaraan hy behoort, Golden Score Judo, is onder die leiding van Sensei Michelle Diamond.

“Sy is die beste sensei met ‘n hartjie van goud,” volgens Rossouw.

Sensei Michelle het gesê dit is wonderlik om te deel dat Rossouw sy passie in judo gevind het.

“Om ‘n liefde vir ‘n sport te ontdek op so ‘n jong ouderdom is verrykend en voordelig vir beide fisiese en persoonlike ontwikkeling.”

In Mei het hy ook gegradueer en sy geelbelt ontvang en nou mik hy vir sy swartbelt.

Rossouw Fourie wys trots sy medalje. Foto ingestuur.

“Dit gaan harde werk en toewyding vat, maar ek gaan dit doen,” het hy gesê.

Michelle noem dat gradering ‘n betekenisvolle mylpaal in vegkuns is.

“Om hierdie mylpaal te bereik is ‘n bewys van sy harde werk en toewyding.”

Rossouw het genoem sy rolmodel is sy sensei aangesien sy hulle nie net leer van judo nie, maar ook lewenslesse. Hy is verder dankbaar vir haar aanmoediging om net hul beste te gee.

Oor sy gunsteling vegtegniek het Rossouw gesê hy hou daarvan om gooie te doen tydens ‘n geveg en sy maag styf te hou wanneer hy iemand op hulle rug het.

Erica, Rossouw se ma, het bygevoeg Rossouw geniet die sport, dit leer hom ook dissipline en hou hom fiks.

“Rossouw werk hard in alles wat hy aanpak. Hy is ‘n seun wat sy beste gee in alles en nie moed opgee wanneer dinge moeilik raak nie. Sy uithouvermoë is iets wat hom baie help. Hy maak ons baie trots,” het Erica vertel van haar seun se prestasie.

Hy beplan om aan die SA Skole Ope in Bloemfontein deel te neem, waar hy hoop om ‘n podium plek te behaal.

“Judo is lekker, jy leer baie en word fiks. As mens jou beste gee sal jy die vrugte daarvan pluk. Judo leer ook dissipline en om hard te werk vir dit wat jy wil bereik,” het Rossouw sy raad gedeel.

Related Articles

 
Back to top button