Schools

Rappies netbal wys wat in hulle steek

Marsha Coetzer en Ziskia Geldenhuys het nie net Laerskool Rapportryer verteenwoordig tydens 'n netbaltoernooi nie, maar ook Gauteng.

Laerskool Rapportryer se netbalafrigters het groot aanslag gemaak tydens die All Ages Toernooi.

Hoërskool EG Jansen het onlangs die jaarlikse netbaltoernooi aangebied waar skole van al nege provinsies bymekaargekom het. Laerskool Rapportryer se eie juffrouens, Marsha Coetzer en Ziskia Geldenhuys, het met trots Gauteng verteenwoordig.

Volgens skoolwoordvoerder Celeste Wentzel, het Marsha as die hoofafrigter vir die o13-span opgetree. Celeste het vertel dat Marsha haar span met vaardigheid en toewyding gelei het. Onder haar leiding het die o13-span uitstekende spelvertonings gelewer en baie waardevolle ervaring opgedoen.

“Haar kennis in netbal en haar passie vir die sport het gesorg vir ‘n span wat met vertroue en vasberadenheid op die baan verskyn het,” het Celeste gesê.

Ziskia, wat as skeidsregter en bestuurder vir die o16-span gekies is, het ook groot lof ontvang.

“Haar kennis van die spelreëls en haar vermoë om regverdig en professioneel op te tree, het gehelp om die wedstryde glad te laat verloop. As bestuurder het sy die administratiewe verantwoordelikhede met sorg hanteer en bygedra tot die suksesvolle verloop van die toernooi,” het Celeste aangemerk.

Celeste het beklemtoon dat Laerskool Rapportryer trots is op Marsha en Ziskia se bydrae tot die netbalgemeenskap.

“Hulle het nie net hul spanne geïnspireer nie, maar ook ons skool en Gauteng se naam hoog gehou. Die deelname en sukses van Marsha en Ziskia by die toernooi dien as ‘n bewys van hul harde werk en toewyding aan die sport en aan alle leerders,” het Celeste vertel.

Related Articles

 
Back to top button