‘Wees jou kind se stem’ — pastorale berader

Rappies se pastorale berader gee insig en wenke oor kinders se emosionele welstand.

Laerskool Rapportryer se pastorale berader, Linmari van der Westhuizen, het ‘n paar wenke gegee aangaande leerders se skoolkwessies.

Linmari fokus op die emosionele veiligheid en gesondheid van leerders en het verduidelik dat sekere tekens kan aandui dat kinders emosioneel struikel.

Sy het vertel dat wanneer ‘n kind se gedrag skielik verander, is daar dikwels ‘n emosionele uitdaging waarmee hul sukkel. Sy het beklemtoon dat ouers op die uitkyk moet wees wanneer ‘n kind emosioneel oorreageer oor ‘n situasie soos langdurige hartseer oor teleurstellings.

Linmari het bygevoeg dat die teenoorgestelde ook waar is. Wanneer ‘n kind geen uitdrukking of emosies wys nie kan dit aandui dat hul emosioneel afgesny is. Volgens Linmari is dit gewoonlik ‘n teken van afwesigheid en veerkragtigheid.

Haar wenk aan ouers is om hul kinders aan te moedig om te praat oor hul emosies.

“Emosies moet ervaar word om dit effektief te kan verwerk. Vra jou kind vragies en leer hul wat elke emosie behels. Gee jou kind die geleentheid om te praat oor wat hull pla sonder om ‘n oplossing reg te hê. Praat hulle taal want ouderdom speel ‘n belangrike rol,” het Linmari uitgedruk.

Sy het verder verduidelik dat ouers ‘n veilige omgewing vir hul kinders kan skep. Familie-aktiwiteite is ‘n eenvoudige oplossing. Sy het aanbeveel dat daar gereeld planne moet wees om uit te gaan as ‘n familie. Sodoende vermy ouers dat kinders hulself isoleer. Sy het ook aangemoedig dat ouers hul kinders moet toelaat om saam hul vriende tyd te spandeer gedurende die vakansie (binne perke waarmee die ouers gemaklik is).

‘n Paar strategieë wat gebruik kan word om kinders se stressvlakke te verlaag, sluit in fisiese aktiwiteite, om gesprekke oor skool te vermy en om kreatiwiteit te bevorder. Linmari het vertel dat kinders kan draf om te ontspan. Dit is ook belangrik om nie oor skool te praat nie sodat kinders kan afskakel. Sy het bygevoeg dat dit kinders emosioneel laat ontspan wanneer hul kreatiwiteit gebruik soos teken, skryf en dans.

Sy het gepraat oor ‘n paar waarskuwing tekens wat kan aandui dat ‘n kind dalk professionele hulp nodig het. Skielike verander in gedrag is ‘n duidelike teken, volgens Linmari.

“’n Verandering in eet en slaap patrone te same met huilerigheid en buierigheid is ‘n paar tekens. Kinders sal gedurig kla oor maagpyn of kopseer, maar daar is geen mediese verduideliking nie. Baie kere sal kinders begin onttrek en eenkant wees.

“Moenie bang wees om te vra vir hulp nie, self wanneer jy onseker is. Jou stilte mag dalk net meer skade doen. Wees jou kind se stem,” het sy afgesluit.

Exit mobile version