Jannas-leerder vermaak met haar klavier-talent

Leanie Benecke, 'n graad nege leerder van Hoërskool Jan Viljoen spog met haar musikale talente en prestasies.

Hoërskool Jan Viljoen-leerder Leanie Benecke presteer al reg deur die jaar met haar klavier-talent en word beskou as ‘n uitsonderlike voorbeeld in die wêreld van musiek.

Interessant genoeg het die graad nege leerder haar klavier avontuur vroeg vanjaar begin en haar passie en toewyding het gelei tot indrukwekkende prestasies. Dit sluit in twee A+, een A++ en A+++ toekennings.

Gevolglik was Leanie onlangs na die gesogte Interprovinsiale gala-aand in Potchefstroom genooi. Daar het sy die gehoor se voete onder hulle uitgeslaan met haar klavier-liedere. Leanie was toe genooi na die Nasionale Allegretto Rondte by Laerskool Rapportryer en dit was hier waar sy as die Nasionale Wenner vir Afrikaans-Klavier uit die stryd getree en as ‘n musikale wonderkind erken is.

“Haar merkwaardige prestasie is ‘n bewys van haar harde werk, toewyding en die ondersteuning van haar onderwysers en familie. Leanie is inderdaad ‘n skitterende voorbeeld van uitnemendheid in die wêreld van musiek en haar toekoms op die gebied van musiek is ongetwyfeld ‘n blink en belowende een,” het Charl Ludick, skoolwoordvoerder gesê.

Exit mobile version