Schools

Dis amptelik! Shereen is eerste vroulike hoof van Jannas

Shereen Mogorosi is amptelik aangestel as Hoërskool Jan Viljoen se eerste vroue-skoolhoof.

Hoërskool Jan Viljoen het amptelik hul eerste vroulike skoolhoof verwelkom.

Onderwyser Rudi van Wyk het vertel dat hierdie as ‘n groot verjaardaggeskenk gesien word aangesien die skool tans sy 85e verjaarsdag vier. Jan Viljoen het op Maandag, 1 Mei die aankondiging ontvang dat Shereen Mogorosi amptelik aangestel is as die nuwe hoof van die skool.

“Tydens die saalopening wat op Maandag, 8 Mei gehou is, was die vreugde alomteenwoordig onder die beheerliggaam, personeel en leerders.

Die spanningstydperk van afwagting op ‘n nuwe hoof is verby. Die titel wat Shereen Mogorosi as waarnemende hoof bekleë het, is vervang met die amptelike titel van hoof van Hoërskool Jan Viljoen.”

Die aanstelling volg nadat Shereen ‘n lewenslange pad saam met Jannas gestap het. Sy het haar hoërskoolloopbaan as leerder by Jannas voltooi. As skoollier het sy uitgeblink en ‘n merk by die skool gemaak. Sy het na matriek die skool verlaat om haar graad in onderwys by die Universiteit Potchefstroom te voltooi.

• Lees ook: Jannas kry sy eerste vroue-waarnemende hoof

Rudi het vertel dat sy vinnig weer by haar alma mater as onderwyser aangesluit het na haar eerste graad en haar doel was om ‘n verskil in ander leerders se lewens te maak binne die klaskamer. Sy is ook trots om te sê dat sy haar onderwysloopbaan by die skool kon begin wat ook gesorg het dat nuwe deure vir haar oopgemaak word.

Hy het verder verduidelik dat sy ook vir ‘n klompie jare aan die Noord-Wes Universiteit by die Vaaldriehoek Kampus verbonde is. Daar is groot vertroue in haar om die skool na nuwe hoogtes te lei. Sy staan vas by die skool se leuse, Labore ad lucem, wat ‘deur arbeid na lig’ beteken. Sy glo deur God dat alles moontlik is en dat sukses deur hardewerk en deursettingsvermoë bereik kan word.

Die skoolbestuur, onderwysers, ouers en leerders het reeds hul ondersteuning aan die nuwe skoolhoof betuig.

“Die gemeenskap sien uit na die leierskap en rigting wat sy sal bring en is verenig in hul toewyding om die skool verder te laat groei en blom vir die volgende 85 jaar. Hierdie was inderdaad vir die skool soos die eerste lentereën na ‘n lang winter.”

Related Articles

Back to top button