Schools

RAM se harte klop vir Bidbeertjies

Toe Laerskool Randfontein wol begin insamel het vir die Bidbeertjie-projek was die opgewondenheid aansteeklik. Die Bidbeertjiehouer het sommer vinnig oorgeloop van al die wol.

Laerskool Randfontein is bevoorreg om deel te wees van die Bidbeertjie-projek in Randfontein.

Departementshoof Magda Graaff het vertel dat dié projek landswyd ondersteun word en in Randfontein die passie en droom van Rudi van Wyk is.

Lees ook: Hoërskool Jan Viljoen geseën met Bidbeertjies

Van Wyk het geesdriftig vertel hoe hierdie projek uitkring na skole, kerke, breigroepe en sommer almal in die gemeenskap. Bidbeertjies maak ‘n groot verskil in baie mense se lewens.

“‘n Bidbeertjie word gebrei deur tannies wat vir die ontvanger bid terwyl hulle die beertjie brei. ‘n Ontvanger van so ‘n spesiale beertjie kry nie net ‘n beertjie nie, maar ook ‘n spesiale kaartjie wat aandui wie die beertjie gebrei het en dat daar spesiaal vir jou gebid is.

Hulle is almal uniek en ongelooflik mooi,” het Graaff vertel.

Toe RAM wol begin insamel het vir die Bidbeertjie-projek was die opgewondenheid aansteeklik. Die Bidbeertjiehouer het sommer vinnig oorgeloop van al die wol.

“Rammies, julle het werklik omgeeharte en is altyd bereid om ander te help. Ons is seker dat die tannies sommer baie beertjies gaan brei. So versprei julle liefde en gebede na ander mense,” het sy gesê.

Die leerders van Laerskool Randfontein het baie wol ingesamel vir die Bidbeertjie-projek. Foto ingestuur.

Graaff het vertel dat die wol op Dinsdag, 23 Augustus aan Hoërskool Jan Viljoen-hoof Sarel Steyn en Van Wyk oorhandig is. Sy het bygevoeg dat hierdie wonderlike inisiatief by Hoërskool Jan Viljoen ontstaan het en nog baie lewens regoor Suid-Afrika gaan aanraak.

Rammies, julle harte klop vir seker warm vir die Bidbeertjies van Suid-Afrika.”

Leon Haupt (Laerskool Randfontein-hoof) ontvang sy bidbeertjie by Sarel Steyn (Hoërskool Jan Viljoen-hoof). Foto ingestuur.

Related Articles

Back to top button