Angsaanval lei tot algehele verlamming vir plaaslike inwoner

Nadat 'n erge angsaanval 'n vrou verlam gelaat het, word sy tans sterker. Jy kan haar steeds help.

Louwrene Smit (25) herstel goed nadat ’n angsaanval haar heeltemal verlam gelaat het.

Louwrene het verduidelik dit het alles met ‘n angsaanval begin. Volgens haar familie het sy self die ambulans gebel. Sy het twee weke lank in die hospitaal gelê, verlam en onbewus van wat om haar gebeur.

“Ek het amper gesterf en as dit nie vir Liewe Jesus was nie, was ek nie vandag hier nie,” het Louwrene gesê.

Later het gevoel teruggekeer van haar voete na haar knieë en sy het met fisioterapie begin. Verskeie toetse is op haar gedoen maar die dokters kon niks fout vind met haar rug nie. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat sy eerder ‘n senuwee-ineenstorting gehad het en hulle het haar op anti-depressante gesit. Sy drink ook vitamiene om haar immuunstelsel op te bou.

Louwrene het tans net haar ouma en oupa om haar te onderhou, nadat sy uit die hospitaal ontslaan is het sy vir twee weke by hulle gebly. Hulle woon egter in ‘n ouetehuis en sy kon nie meer daar bly nie en moes ’n ander wooneenheid kry waar sy bygestaan ??kon word.

Haar vriendin, Celestine Esterhuizen het besluit om haar te help en het nege verskillende organisasies gekontak om uit te vind of hulle haar kan huisves. Die verblyfkoste van die organisasies was egter bo hul begroting.

Chantelle Botha, eienaar van Tulbach Huis Bejaardesorgsentrum het na hulle uitgereik nadat hulle Louwrene se storie op Facebook gesien het en aangebied dat Louwrene vir twee maande in hul sorg kan wees. In plaas van ’n maandelikse bedrag vir haar verblyf, het hulle ooreengekom dat sy eerder net groente en vrugte vir die tehuis sou koop.

Aan die einde van Oktober het sy egter steeds verblyf nodig waar sy gehelp kan word wanneer dit nodig is.

Dit gaan beter met haar en sy word by die dag sterker, maar sy het steeds hulp nodig met haar oefeninge en iemand om seker te maak sy kry nie seer nie aangesien haar bene soms nog ingee.

Sy kan egter weer loop, haar bene self oplig en haar hande bo haar kop lig al is haar arms nog verlam en sy kan opstaan en alleen gaan sit.

“As dit nie vir die ondersteuning van my familie, Celestine en Chantelle was nie, sou ek dit nie so ver gemaak het nie. Hulle het my almal gehelp en nie gekla toe ek om hulp gevra het nie,” het Louwrene genoem.

Enige persoon wat wil help kan Celestine kontak op 076 979 9442.

Exit mobile version