Local news

Hond met ketting en band aan watermeter vasgemaak

No More Tears Animal Rescue onthul 'n skokkende voorval waar 'n hond aan 'n watermeter vasgemaak is.

No More Tears Animal Rescue moes inspring en ‘n hond wat aan ‘n watermeter vasgemaak was, red.

Clarisse Kruger, ’n vrywilliger by die organisasie, het verduidelik dat hulle ’n oproep van ’n gemeenskapslid ontvang het oor ’n hond voor haar erf wat met ’n ketting en band aan ’n watermeter vasgemaak is. Hy was ook oortrek met rooimiere. Aangesien die ketting kort en styf om sy nek was, kon hy nie van die miere wegkom nie.

Ten spyte hiervan was die hond in ‘n goeie toestand. Daar was groot kommer dat die ketting en band te styf om sy nek gebind was. Weens die vinnige optrede deur die inwoner en diereredders het die hond nie mediese aandag nodig gehad nie. No More Tears het hom wel gesteriliseer, ingeënt en gemikroskyfie.

“Die hond is tans by die veearts. Daar was reeds navrae oor sy aanneming en die nodige prosesse sal dus gevolg word om te verseker hy kry die beste moontlike huis,” sê Clarisse.

Die hond wat onlangs deur No More Tears Animal Rescue gevind is. Foto ingestuur.

Clarisse het bygevoeg dat hul op die oomblik vol is, maar hulle het steeds die besluit geneem om hom in te neem as iemand hom nie aanneem nie.

“Ons naam weerspieël ons kerngeloof dat alle diere ongeag ras, ouderdom of toestand liefde en ‘n tweede kans verdien. Ons versorg tans gemiddeld 40 diere per maand. Ons werk vanaf ‘n losiesfasiliteit [hokke], maar ons droom is om ’n eiendom te besit om ’n kliniek te besit, wat ons in staat sal stel om nog meer diere en hul eienaars te help,” het Clarisse gesê.

Hulle maak staat op gemeenskapsondersteuning en enige skenking, hetsy finansieel, vrywilliger of bewusmaking, maak ‘n verskil.

“Word deel van die No More Tears-familie en help ons om ‘n toekoms vol liefde en tweede kanse vir diere in nood te skep. As iemand ‘n skenking kan maak of ‘n borg kan wees, sal dit baie waardeer word.

“Ons streef daarna om mishandelde, verwaarloosde en rondloperdiere te red, te help, te rehabiliteer en weer te huisves. Ons red die vergetes, genees die gebrokenes en is lief vir die ongeliefdes. Terwyl ons ook die armer gemeenskappe in en om Randfontein en Krugersdorp onderrig, help ons ook met sterilisasies en ‘n veearts sorg vir diere in nood. No More Tears Animal Rescue het groot vordering gemaak om te help en te red, maar ons het nog baie om te bereik. Enige ondersteuning sal waardeer word.

Stephan Hendriks, een van die direkteure, kan op 084 433 7748 gekontak word.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button