Jong seuns oorwin Tafelberg

Ten spyte van hul ouderdom is dié twee seuns ’n inspirasie vir baie ander nadat hulle Tafelberg se lang stap aangepak het.

Twee plaaslike seuns het Tafelberg die afgelope skoolvakansie aangedurf en die hoogste punt bereik.

Verlede maand het beide Dante Gouws (9) en Uriah Adams (8) ‘n staptog van 3km op die bekende berg in Kaapstad saam met hul gesinne voltooi.

Clinton Adams, wat ook die berg aangedurf het, het verduidelik dat die plan was om met die kabelkarretjie te ry, maar aangesien daar te veel mense was, het hulle op die staproete besluit. Dit was toe ook deel van Uria se verjaardaggeskenk.

Dante het gesê dit was beslis baie pret en opwindend, ‘ons het nogal gestap’.

Uriah het bygevoeg, “Ek het nie gedink ek sou die stap voltooi nie. Ek het myself verras.”

Die seuns beplan om in Februarie 2025 weer die berg aan te durf.

“Vat genoeg water, iets om aan te peusel, ’n hoed en goeie stapskoene en klim die berg so vroeg as moontlik,” het die seuns ander aangeraai wat die berg wil uitklim.

Hulle het ook die geleentheid gehad om toeriste van so ver as België te ontmoet.

“Nie baie sal die berg aandurf nie en vir hulle was dit ‘n uitdaging wat in ‘n oorwinning geëindig het. Hulle is ‘n inspirasie vir ander,” het Clinton afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version