Local news

Afrikaners is trots op hul taal en kultuur

Vir Erfenisdag deel Afrikaners hul liefde vir hul taal en kultuur asook ’n paar gunsteling herinneringe.

Met Erfenisdag om die draai wil baie Suid-Afrikaners hul trots wys.

Lou en Daleen Brits (albei 78) asook Dries van Zyl (89) is drie langtermyn-inwoners van Randfontein en vertel hoekom hulle trots is op hul taal en kultuur.

“Ons belangrikste erfenis is ons taal en ons agtergrond,” het Lou gesê.

Hy sê hy het ’n tipiese Afrikaner-opbrengs gehad en sy ouers het albei van die platteland af gekom. Albei was ook Afrikaanssprekend.

Daleen het genoem dat sy in die Vrystaat gebore is vanwaar hulle na Gauteng verhuis het. Sy het ook op ‘n plaas grootgeword.

Dries is gebore en getoë in Randfontein en sê in 1938 was daar nie eens huise in Randgate nie. Sy pa is op ’n vroeë ouderdom oorlede en sy ma moes vir hom en sy jonger suster sorg. Hy moes na skool begin werk om by te dra en kon ongelukkig nie gaan studeer nie.

Hy vertel van tradisies en hoe hy aan Volkspele deelgeneem het asook sokker en rugby en verskeie ander sportsoorte gespeel het.

Lou het bygevoeg, “Ons is ‘n hegte volk, ons huil saam en lag saam. Almal is vriende en ken mekaar, ons loop gereeld mense wat ons ken by die kerk of selfs by restaurante raak. Dit is lekker om saam met ons mede-Afrikaners te kuier.”

Daleen, wat die laaste 40 jaar in Randfontein woon, sê jy leer baie mense ken.

Vir Lou is sy grootste trots sy taal.

“Dit is die belangrikste van alles en ook hoekom ons so hard daarvoor veg.”

Daleen het genoem een ??uitdaging wat hulle teëgekom het, is om met kliëntediens in Afrikaans gehelp te word en as Afrikaanssprekende is dit nie altyd vir haar maklik om dinge in Engels te verduidelik nie.

“Ons is bereid om alles met almal te deel, ons wil net nie onderdruk word nie.”

Haar grootste trots is haar Godsdiens.

Dries het bygevoeg dat dit ongelukkig iets is wat verlore gaan in die jonger generasie en mense gaan nie meer so gereeld kerk toe nie, wat vir hulle ‘n instelling was. Hy het genoem hoe hy elke Sondag sy pennie blink gevryf het voordat hy Sondagskool toe is om dit vir die Sondagskoolonderwyser te gee.

Lou het genoem iets wat hy graag wil hê mense moet weet oor die Afrikanerkultuur is die pad wat hulle gestap het. Hoe hulle uit die as opgestaan ??en teruggeveg het teen diegene wat hulle probeer onderdruk het.

Deur harde werk is hulle vandag vooruitstrewende mense. Alhoewel hulle dit baie keer moes doen sonder verdere opvoeding en eerder met durf en daat. Hy onthou ook hoe sy pa van 05:00 tot 22:00 gewerk het.

“Ons het in die moeilikste omstandighede staande gebly,” het Dries gesê.

“Ons het sowat vier eeue lank ’n trotse nasie gebou wat sy merk in lande regoor die wêreld maak,” het Lou bygevoeg.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button