Local news

Koue weer kan nie dié boeremark keer

Koue weer en warm peuselhappies was die hoogtepunt van die mees onlangse NWK Boeremark.

Die dag se koue weer kon nie die NWK Boeremark keer nie waar ‘n groot verskeidenheid boereprodukte en lekkernye te koop was.

Hoewel die wind ’n groot uitdaging vir die dag was, het die boeremark van 31 Augustus groot vermaak aan inwoners gebring.

Een van die eerste stalletjies was dié van Tersia Brits se tuisgemaakte gemmerbier. Hierdie stalletjie het talle versnaperinge vertoon, insluitend koekies, gebakte oliebolle en natuurlik ook gemmerbier. Tersia het beklemtoon dat die oliebolle gebak en nie in olie gebraai is nie.

Die daaropvolgende stalletjie het iets uniek aan die gemeenskap gebied. Die eienaar van Hand Made Knives, Mellies Victor het gesê dat hy die dag verskeie handgemaakte lemprodukte soos byle, bowie-messe, klawers en jagmesse vertoon het. Mellies het selfs verduidelik dat die leersakke handgemaak is.

“Ek het twee jaar gelede ‘n groot liefde hiervoor ontwikkel. Ek is ‘n pensioenaris en daarom moet ek myself besig hou,” het hy gesê.

Albrie Venter het op die dag borreltee en koeldrank verkoop. Alhoewel dit dalk te koud was vir hierdie drankies, wou sy ook met koffie improviseer vir ‘n warm drankie.

No More Tears Animal Rescue het hulself sigbaar gemaak om die gemeenskap vir skenkings te werf. Een van die direkteure, Liezel Hefer, het gesê hulle het bekers, rekenaar muiskussings en vele meer verkoop om fondse in te samel.

“Ons benodig dringend ’n grootmaatvoorraad hondekos om die onlangse inname van nege honde te voed,” het sy gesê.

Gina van Zyl en haar gesin het besluit om pannekoek en boereworsrolle te verkoop.

“Ons geniet dit om ‘n bietjie sosiaal te wees,” het Gina uitgespreek.

Related Articles

Back to top button