Vyfjarige Haylee oorheers die loopplank

Jong skoonheidster, Haylee Edwards, droom daarvan om nog vele meer te doen.

Haylee Edwards (5) se natuurlike vermoë op die loopplank is deel van haar droom om eendag ’n groot naam in die bedryf te wees.

Haylee se ma, Samantha, is trots op haar loopplankmodeldogter se puik prestasies wat sy reeds op vyfjarige ouderdom behaal het en deel dit graag met die Randfontein Herald.

Op 10 Augustus het sy in ‘n skoonheidskompetisie in Pretoria geloop waar sy as Ultimate Beauty SA wenner, SA Nasionale Mej eerste naaswenner, Miss Beauty Royal wenner, Ethereal Beauty eerste naaswenner en Personality Missy SA finalis 2025 gekroon is.

Op 17 Augustus het sy nog in ‘n skoonheidskompetisie geloop waar sy die titel Little Miss Usambara verwerf het.

Hierdie jaar gaan Haylee afsluit met die Mnr en Mej Jan se Skuld Fees en Mej Prime Star SA.

Hoewel sy reeds uitstekende prestasies behaal het, het haar ma vertel dat sy nog baie meer doelwitte het. Haylee wil graag inskryf en die Toddler and Tween of the World Skoonheidskompetisie wen. Sy droom daarvan om eendag met harde werk die loopplank oorsee te loop.

“Haylee geniet dit nog altyd om hakskoene te dra en in hulle rond te pronk. Sy sê altyd dat dit haar mooi maak voel. Op die loopbaan is sy altyd haarself en sy kan gemaklik wees,” het Samantha gedeel.

Haar grootste rolmodel is haar juffrou Anche Steyn omdat sy vir Haylee alles geleer het van modelwerk.

“Ek is so trots op my klein poppie wat op so ‘n jong ouderdom al hierdie prestasies het in iets waarvoor sy lief is. As sy loop is dit asof sy gemaak is om op die loopplank te wees. Ek kan my trane nie keer nie. Sy helder almal op met haar pragtige glimlag,” het Samantha trots uitgedruk.

“Dit gaan nie net oor ‘n mooi gesiggie of ‘n mooi rok nie. Dit gaan oor die innerlike self ook. Dit het Haylee gehelp met selfvertroue. Dit is ‘n baie belangrike aspek vandag om selfvertroue te hê en nie skaam te wees voor mense nie,” het sy afgesluit.

Exit mobile version